Gedagte vir die dag: Die Here doen die onmoontlike

landskap_stiltetyd.jpg

Foto: pixsbay.com

Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg. (1 Konings 17:4)

Dit is vir ons as manne baie belangrik om nie net in ons eie behoeftes en lewensmiddele te voorsien nie, maar ook in dié van ons afhanklikes. Ons lees hoe die Here vir Elia sorg. Hy maak van kraaie – vraatsugtige “diere” op aarde – gebruik om vir Elia te voorsien. As brood en vleis, soos die manna en die kwartels vir die Israeliete in die woestyn, uit die hemel neergedaal het, sou dit al klaar ’n wonderwerk wees. God kies egter die mees onwaarskynlike om vir Elia kos te bring, naamlik kraaie.

Kraaie was vir die Israeliete onrein. God doen dus die onmoontlike deur die onwaarskynlike.

Daar is ’n verhaaltjie waar ’n ou gelowige vrou ’n ateïstiese buurman gehad het. Sy het die Here gedank vir al sy gawes – tot groot irritasie van haar buurman. Soggens wanneer sy op haar stoep sou uitroep: “Prys die Here vir sy goedheid!” sou hy uitkom en van sy stoep af skree: “Daar is geen God nie! God bestaan nie!” Een koue wintersoggend het die vrou uitgestap en hardop gesê: “Here, ek het nie kos nie! Voorsien asseblief vir my!” Die volgende oggend is daar toe twee sakke vol kruideniersware op haar stoep. “Prys die Here!” het sy uitgeroep. “Hy het kruideniersware vir my voorsien.” Die ateïs het agter die heining uitgespring en geskree: “Daar is geen God nie! Dit is ek wat die kruideniersware vir jou gekoop het!” Die ou vrou roep toe uit: “Prys die Here! Hy het vir my voorsien in kruideniersware en Hy het boonop die duiwel daarvoor laat betaal!”

Wat ’n troos dat God ook vir my kan voorsien, ongeag my situasie, ongeag my krisis. Hy kan vir my voorsien deur die mees onwaarskynlike persone en selfs teen alle logika in.

Here, dankie dat U soms die onmoontlike doen en vir ons voorsien deur die onwaarskynlike. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

dejager ·

Amen.Daar is geen einde aan ons Hemelse Vader se goedheid nie en Sy trou is van geslag tot geslag.

Lammie ·

Dankie hiervoor, my dag het nou op ‘n baie positiewe noot begin!

Helien ·

Prys ons Vader vir alles wat Hy vir ons sondaar doen. Jesus ek glo in U, ek is lief vir U, ek volg U en ek vertrou op U.

Prys U aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.