Gedagte vir die dag: Die Here het afgesien van die ramp

Storm_weer_see_rotse_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto: pixabay.com

Die HERE het toe afgesien van die ramp wat Hy oor sy volk wou bring. (Eksodus. 32:14)

Die Israeliete was in die woestyn en het moeg geraak om te wag vir Moses om met die Tien Gebooie van die berg af te kom. Toe besluit hulle om hulle eie god te maak om te aanbid. Hoe dikwels belowe ons ook maar vir die Here dat ons nooit ander gode sal aanbid nie, dat ons Hom nooit sal verlaat nie en dat ons Hom nooit in die steek sal laat nie? En tog, die oomblik dat die lewe weer vir ons goed is, vergeet ons waar ons krag vandaan kom en ons begin weer agter gode soos geld en plesier aanjaag. Dit is presies wat die Israeliete gedoen het. Hulle het van God vergeet, die God wat hulle uit Egipte gelei het. Hulle het ’n doodgewone goue beeld van ’n kalf gemaak en dit begin aanbid.

God was so kwaad dat Hy vir Moses gesê het Hy gaan die Israeliete van die aangesig van die aarde verwyder. As Hy dit gedoen het, sou ek en jy nie vandag hier gewees het nie. Moses, net een man wat soos ’n mier voor die magtige heerlikheid van God gelyk het, het gesê: “Here, U kan dit nie doen nie, want al die volke van die wêreld sal vir U lag. U het die Israeliete uit Egipte gered. Het U hulle dan gered net om hulle te vernietig? Onthou u dienaars Abraham, Isak en Jakob. U het aan hulle ’n belofte gemaak; U het ’n verbond met hulle gesluit, Here, dat U aan hulle ’n groot nageslag sou gee. En nou wil U hulle uitwis.” Die Bybel sê: “Die Here het toe afgesien van die ramp” (Eks. 32:14).

Wanneer ons berou het oor ons dade en dit gelowig voor God bely, sal die Here ons vergewe, want Hy is die genadige God. Dan kan ons van voor af begin. Dit is hoekom ek so lief is vir ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Wat ’n genadige God is Hy nie! Hy sal selfs na sy eie skepping luister, die minste wees en van plan verander. Daar is geen sonde so groot dat God dit nie kan vergewe nie. Daar is geen sonde so klein dat God dit nie kan vergewe nie.

Voordat jy vandag uitgaan en die wêreld in die oë kyk, bely enige sonde in jou lewe. Vertrou dan in geloof op God dat Hy jou vergewe het. Gaan dan en moenie meer sonde doen nie.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.