Gedagte vir die dag: Die Here hou die aarde dop

Clarens_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. (2 Kron 16:9)

Lees 2 Kronieke 16:7-14

Die siener Ganani gaan met God se boodskap na koning Asa: Omdat hy op die koning van Aram staatgemaak het om hom te help in plaas van om op die God van Israel te vertrou, het hy sy kanse verspeel om die leër van Aram met God se hulp te verslaan. God het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hul le hele hart op Hom vertrou, sê Ganani. Koning Asa is só kwaad oor hierdie boodskap dat hy Ganani in die tronk laat gooi. Na dat Asa 39 jaar lank oor die volk regeer het, het hy ’n voetsiekte opgedoen. Selfs toe hierdie siekte later sy lewe in gevaar gestel het, het hy steeds op die dokters in plaas van op die Here vertrou.

Mense wat op ander mense in plaas van op God vertrou, kom altyd tweede. Ganani se boodskap aan Asa het steeds vandag op jou betrekking. God kyk vanuit die hemel na sy kinders hier op aarde sodat Hy kan sien wie van hulle sy hulp op ’n spesifieke oomblik nodig het. Hy is slaggereed om dié mense te help wat op Hom vertrou. Indien jy onderneem om vas op God te vertrou, het jy die versekering dat Hy jou altyd in die oog hou, dat Hy jou sal help as jy sy hulp nodig kry.

Here, dis vir my gerusstellend om te weet dat U vanuit die hemel na die aarde kyk sodat U kan sien presies wanneer ek u hulp nodig het. Baie dankie dat U my so in die oog hou! Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.