Gedagte vir die dag: Die Here is ’n vesting in teenspoed

Son_water_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ék vertrou op U, o Here! Ek sê: U is my God. My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers. (Psalm 31:15-16)

Die donkerste tye wat ek as Christen beleef het, is ook die tye wat Jesus die naaste aan my was. Ek sê dit met voorbehoud, maar ek sal daardie tye vir niks verruil nie. Jy sien, dit was deur die moeilike, harde tye in my lewe dat ek werklik die Koning van konings en die Here van here leer ken het. Ek verkies om nie weer deur daardie ervaring te gaan nie, maar ek besef as ek dit nie beleef het nie, sou  ek nie die lesse kon leer  wat ek wel geleer het nie. Ons gelykenis van gister sê: Jy sal niks leer deur te groei in die vleiland met al die water en son wat jy tot jou beskikking wil hê nie. Maar jy sal waarlik sterk word terwyl jy die natuurelemente in die barre Bosveld trotseer.

So is dit ook met die Christen. Die meeste volwasse Christene wat ek al ontmoet het,  het elkeen,  sonder  uitsondering, ’n wonderlike getuienis.  Dalk het hulle deur beproewing of swaarkry gegaan, of dalk kom hulle uit ’n agtergrond waar hulle baie min gehad het. Elkeen van hulle weet wat dit beteken om die Here as vesting in teenspoed te hê. Te midde van hul swaarkry, het hulle soos die psalmis na God uitgeroep: “Wees my genadig, Here, want ek is benoud; van verdriet het my oog mat geword, my siel en my liggaam. Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongereg tig heid, en my gebeente teer uit”  (vers 10-11).

D.L. Moody was een van die grootste evangeliste wat nog ooit gelewe het. Hy het uit ’n groot gesin gekom en sy pa is dood toe hy nog ’n jong seun was. Hy moes gaan werk as ’n skoenverkoopsman en het geld huis toe gestuur om sy gesin te onderhou. Hy het swaarkry geken. God het Moody se beproewings gebruik om ’n man te vorm wat Hy kon gebruik om groot dinge vir Hom te doen. Watter effek het jou beproewings op jou groei as ’n kind van God?

“By U, o Here, skuil ek; laat my nooit beskaamd staan nie. Bevry my  deur  u  geregtigheid.  Neig  u  oor  tot  my,  red  my  gou;  wees  vir my ’n rots om in te vlug, ’n baie vaste huis om my te verlos. Want U is my rots en my bergvesting; en om u Naam ontwil sal U my lei en my bestuur.” (vers 2-4).  Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U in elke storm saam met my is… my versterking en vertroosting kom van U af…met my lewe is U goed bekend….op U bly ek vertrou tot in alle ewigheid

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.