Gedagte vir die dag: Die Here is op pad

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Die Een wat van die heel begin af bestaan het, is die Een wat ons gehoor en met ons eie oë gesien het. Ons het Hom aandagtig waargeneem, en Hom met ons hande aangeraak. Dit gaan oor die Woord wat lewe gee. (1 Johannes 1:1)

Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom. (2 Petrus 3:9)

Dit is nie nou die tyd om te raai nie, dit is nie die tyd om dwaas op te tree en te stry oor die heerskappy van Jesus Christus nie. Daar is nie meer tyd nie, geen meer “ek hoop maar so” of “miskien” nie. Jesus bestaan reeds van die begin van tyd af. Ons lees in Johannes 1:1: “Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God.” Mense het Hom gesien en geken. Johannes sê vir ons hy was self ’n getuie hiervan. Is dit nie wonderlik nie?

Dalk het jy ’n geliefde verloor en is dit vir jou belangrik om meer van hierdie Jesus te leer. Bestaan Hy werklik?

Wel, in Johannes 11:26 sê Jesus: “Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook.” Jesus lewe beslis en Hy kom binnekort terug aarde toe. Jy wonder dalk hoe ons almal gereed kan wees hiervoor. Ons kry die antwoord in Romeine 10:9: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.”

Bid vandag nog voordat jy jou huis verlaat en kyk dan vooruit. Kyk op, nie af nie, want jou verlossing is naby.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.