Gedagte vir die dag:  Die Here se stem

berg_wolke_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 29

Die stem van die Here weerklink … (Psalm 29:3)

Die ander gode raas en blaas, maar wanneer die magtige stem van die Here weerklink, gebeur dinge. En dit gebeur gróót! Die see en die berge en die hemelruim getuig hiervan. Vir almal om te sien en te hoor en hulle te verwonder.

Die Here se kinders ken Hom so. Hulle weet hoe Hy klink. Daar- om sal hulle mekaar op berge en in dale en oral troos en sê: Sien jy daar? Hoor julle dit? Wees bly. Want dit is die Here wat daar praat. Hierdie uitbundige psalm laat die gelowiges hul ore spits en oë fokus. Om beter te kan hoor hoe die Here klink, om beter te kan sien hoe Hy werk. Sodat hulle te midde van hierdie wêreld se gedruis hul Here se stem van die res kan onderskei.

Dit is goed so. Want deur die eeue het dit dikwels, selfs vir die Here se mees oplettende kinders, geklink asof Hy begin swyg. Hulle sal soms selfs vra: Hoekom bly U dan stil? Het U bes gegee met u wêreld? Tree U terug? Wat gaan dan van ons word, u kinders wat so deur die ander stemme oorweldig word? Ons wat dikwels daardeur aangelok, selfs meegesleur word?

Daarom is hierdie pêrel van ’n psalm ’n glinsterende herinnering aan die Stem wat bo alle stemme uitstyg. Wat verder as elke ander plaaslike geraas reik. Sodat al sy kinders, waar hulle ook al is, Hom kan hoor.

Nee, dit is selde ’n buldering en nooit ’n geskreeu nie. Dit is wel die onmiskenbare, vaste stem van Hom wat destyds al geselsende geskep het. En van altyd af ook só sy kosbare skepping onderhou en sy geliefde skepsels troos.

Ek hoor U, Here! Die klank van u stem maak my bly.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie Here vir al U genade en seëninge. Amen!

Von ·

Al die lof en aanbidding en eer kom U alleen toe…..dankie Here Jesus dat U die Weg vir ons gebaan het

Jessie ·

Niks, niks kan ons kan ons skei van die Liefde van ons God nie..AMEN

Pieter, Weskaap. ·

Dankie Here dat ons weer eens op Kersdag kon nadink en juig omdat Jesus ‘n mens geword terwille van die mense!

Hallelujah ·

Dankie Here vir U stem – dit is U stem wat my verseker dat ons nog ‘n land het – U stem wat my verseker dat U daar is elke dag as ek opstaan, U stem wat my verseker dat als net reg gaan wees.
Dankie vir U stem. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.