Gedagte vir die dag:  Die Here se woorde

Kerk_ou-gebou_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Genesis 18:20-32

Abraham sê toe: “Moet tog nie kwaad word as ek nog ’n keer praat nie, Here”. (Genesis 18:30)

Ná vele avonture kry Abraham eerstehands met die ellendige, sondige Sodom te doen. Daardie stad wat Lot destyds so entoesiasties gekies het (vgl. Gen 13:11-13). En weer ontmoet Abraham die Here, en weer waag hy hom in ’n tweegesprek met die Here (vgl. Gen 15; 17). Maar dié keer pleit Abraham nie vir homself nie.

Hy neem Sodom se lot op sy skouers, en hy praat met die Here in ’n taal wat meestal ongekend in die Bybel is: Abraham redeneer met Hom, hy onderhandel. En hy hou eenvoudig aan en aan en aan. Wat ons betref, steek hy die grens tussen hom en die Here op ’n ontoelaatbare, selfs arrogante wyse oor. Ons sou wou sê: Hokaai, Abraham! Hy is nie jou speelmaat nie. Buitendien: Jy pleit nou vir Sodom, van alle plekke …

Maar dan gebeur ’n vreemde ding: Die Here praat saam. En dit is eintlik ongehoord. Die Here laat nie bloot toe dat Abraham só met Hom praat nie; Hy kom Abraham tegemoet, en weer, en weer. Só open Hy vir ons ’n splinternuwe perspektief op Abraham se optrede. Baie jare later sou Jesus dieselfde reaksie toon toe ’n heidense vrou (nogal!) Hom ewe oneerbiedig teëgaan – en Hy haar wens vervul teen sy oorspronklike reëling in (vgl. Matt 15:21-28).

Wat hoor ons alles hier? Dat die Here selfs “méér anders” is as wat ons dink? Dat mense nog altyd die grense van sy toegeeflikheid oorskry het? Ja, wel. Maar ook dat deernis altyd die laaste Goddelike woord is.

Hoeveel sulke Bybelstories moet ons nóg hoor voordat ons dit glo?

Liewe Here, leer my respek vir u omvattende deernis.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Here Jesus U het soveel geduld met my…dankie dat ek elke dag n nuwe kans kry…Amen