Gedagte vir die dag: Die kenteken van ’n Christen

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: Crosswalk.com

Leef ’n lewe van liefde soos ook Christus ons liefgehad het deur Homself vir ons oor te gee as ’n lieflike reukoffer aan God. (Efesiërs 5:2)

Die kenteken wat ek en jy as gelowiges dra, kan in een woord opgesom word: liefde. Die Bybel sê die liefde van God bedek baie sondes (1 Petrus 4:8). Ons het toegang tot die kragtigste element in die wêreld en dit is liefde. Volmaakte liefde verdryf vrees (1 Johannes 4:18).

Die Bybel sê selfs ’n gewone mens sal iemand liefhê wat hom of haar liefhet, maar dis ’n totaal ander saak om iemand lief te hê wat jou haat. Dis iets wat slegs kan gebeur deur die krag van God in jou lewe. Ons moet ander liefhê, en as ons op die wang geklap word, moet ons die ander wang ook draai. Dit verg ware liefde.

Kom ek vertel jou die storie van Billy Bray. Hy was ’n myner, ’n rowwe man, sout van die aarde. Billy het ’n Christen geword en uiteindelik drie kerke in Cornwall gebou. Hy het baie van die bouwerk self gedoen.

Hy het altyd op ’n klipmuur by die mark gestaan en preek. Eendag het ’n groot, ruwe myner, wat selfs nog groter as Billy was, voor hom kom staan en gesê Billy moes ophou preek of die man sou hom slaan. Billy het vir hom gesê dat Jesus hom liefhet en dat hy deur genade gered kon word. Toe moker die man Billy van die muur af.

Hy het met ’n mond vol bloed opgestaan en ’n paar tande uitgespoeg. Toe klim hy weer op die muur en preek met nóg meer ywer, krag en moed. Die man het hom ’n tweede keer geslaan. Billy het weer op die muur gaan staan en vir die man gesê: “Jesus het jou nog steeds lief.”

Die groot myner kon dit nie meer hanteer nie en het op sy knieë neergeval. “Billy, vertel my van jou Verlosser,” het hy gesê. Daardie dag is nog ’n man vir die koninkryk gered. Daar is geen krag op aarde wat sterker is as liefde nie.

Hemelse Vader, ek wil ander met die liefde van Christus liefhê. Help my asseblief om die kenteken van liefde te dra en alle mense lief te hê soos wat U hulle liefhet. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marianne ·

Beste dagstukkies die van Angus. Mooi en eenvoudig vir almal om te verstaan en te geniet.

MM ·

Pragtig en dankie om ons weereens daaraan te herinder -GOD IS GROOT AMEN

yolandi ·

Dis so aangenaam om elke dag te onthou word van die grote God wat ons almal op di aarde liefhet. Baie dankie ek geniet dit elke dag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.