Gedagte vir die dag: Die koms van die Lig

oggendster_boekevat.jpgDie volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn. (Jes 9:1)

Lees Jesaja 9:1-6

Baie jare voor Jesus se geboorte voorspel die profeet Jesaja dat daar eendag Iemand sal kom wat die sonde donkerte op aarde sal uitwis, en lig vir God se kinders sal bring. Met Jesus se geboorte word hierdie profesie vervul. In die Bybel is lig meestal positief, ’n aanduiding van God se koninkryk, terwyl donkerte gewoonlik negatief is en die ryk van die duisternis aandui. Die boodskap van Kersfees is juis dat God sy Seun na die wêreld stuur sodat ons nooit weer in die donker hoef voort te ploeter nie, maar van nou af die Lig wat lewe gee by ons sal hê. Lig is dan ook sinoniem met Kersfees. Daar is oral Kersliggies in die strate, aan die Kersbome en in die winkelvensters.

In die Lukas-weergawe van die geboorteverhaal was die eerste teken van die engel die glans van God se heerlikheid wat rondom die skaapwagters geskyn het. Jesus getuig self dat Hy die lig vir die wêreld is, maar Hy stel óns aan om ook ligte te wees. Ligte wat in ’n donker wêreld behoort te skyn en wat nie deur die duisternis oorweldig sal kan word nie. Wil jy nie hierdie Kersfees erns maak met jóú ligroeping nie? Straal God se lig uit na die mense rondom jou, getuig van die Lig sodat jy self ’n lig vir God kan wees.

Here Jesus, dankie dat U gekom het om lig te maak in ’n donker wêreld. Maak mý hierdie Kersfees ook ’n lig wat van U sal getuig en u lig sal uitstraal. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.