Gedagte vir die dag: Die Koning leef!

lig_boekevat_bos…stemming.jpg

Foto: Reint Dykema

Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek.” (Luk 24:5-6)

Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh 20:29)

Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. (Luk 24:21)

Die vier Evangelies het elkeen sy eie weergawe van Jesus se opstanding. Maar die feit wat onweerlegbaar vas bly staan, is dat Jesus waarlik opgestaan het uit die dode. Jesus leef! Die Koning leef! En ja, waar mense graag ’n aardse koning die bede toewens: “Lank lewe die koning!” word dit in hierdie geval: “Die Koning leef nou en vir altyd!”

’n Paar van die uitstaande momente rondom die opstandingswonder is die feit dat die vroue dit heel eerste beleef het. Tweedens die verhaal van die Emmausgangers en derdens die bevestiging wat Tomas gekry het.

Die vroue was van Jesus se getrouste volgelinge. Hulle het tot by die kruis getrou by Hom gebly. Hulle was net altyd daar toe niemand anders daar was nie. Die Emmausgangers was twee teleurgestelde volgelinge van Jesus. Hulle het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos. ’n Politieke droom is verpletter. Maar toe word ’n veel groter droom waar: die koninkryk van die hemel word wyd oopgestel vir elkeen wat glo in die gekruisigde en opgestane Jesus. En dan Tomas, die man wat soveel mense se stemming verwoord: twyfel in wonders. Totdat Jesus self sy twyfel uit die weg ruim, maar met ’n berisping: salig is dié wat glo al het hulle nie gesien nie.

Glo jy, al het jy nie gesien nie?

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.