Gedagte vir die dag: Die koste van diensbaarheid

“Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?” “Ons kan,” sê hulle vir Hom. Markus 10:38-39 

Daar is geen beter voorbeeld van ‘n dienskneg as Jeus Christus nie. Vandag se vers is ‘n bewys dat Jesus doelbewus gekies het om ‘n dienaar te word. Diensbaarheid het Jesus baie duur gekos, en dit geld ook vir ons.

Toe Jesus tydens die laaste paasmaaltyd met sy dissipels oor diensbaarheid gesels het, het hy nie probeer om hulle te oortuig dat dit ‘n maklike pad sal wees nie. Hy het het onmiddellik na die “fynskrif van die kontrak” verwys: daar is koste verbonde aan koninkryksdiens. Die taak wat aan die dissipels toevertrou is, was baie belangrik. Jesus benodig manne en vroue met diep geloofsoortuigings, mense met oë wawyd oop, harte wat oorloop van toewyding en wie se wil ten volle oorgegee is aan Hom, manne en vroue wat Hom sal volg tot die dood.

Jesus se vraag aan sy dissipels in vandag se teksvers word geantwoord met ‘n oppervlakkige “ons kan”. Jesus vertel aan sy dissipels dat hulle wel die lydensbeker sal drink en met die doop gedoop sal word.  Die dissipels moes leer dat vir ‘n invloedryke geestelike bediening wat vrug dra, daar ‘n prys is om te betaal – en dit is ook nie een maklike betaling nie. Uiteindelik is Jakobus se kop afgekap en Johannes het sy dae as ‘n banneling op die eiland Patmos deurgebring. Miskien gaan ons nie op dieselfde manier as die eerste dissipels ly nie, maar ons as Christene moet nooit verbaas wees as swaarkry oor ons pad kom nie.

Lyding en diensbaarheid is nou met mekaar verweef. In 1 Petrus 2:21 lees ons: “Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.” Lees vandag deur 1 Petrus en oordink jou roeping om getrou aan Jesus te wees selfs wanneer lyding oor ons pad kom. Spandeer tyd in gebed en meditasie oor jou eie gewilligheid om ter wille van Christus lyding te verduur – waar jy jou ook al mag bevind.

 Gebed: Here, gee my krag om die moeilikhede wat met Christenwees kom, getrou te kan verduur. Dankie vir Christenvriende wat my aanmoedig en ondersteun om getrou aan U te wees. Amen

 Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.