Gedagte vir die dag: Die krag van die Gees

 Stiltetyd-16.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Ek, daarenteen, het baie krag, ek het die Gees van die Here. (Miga 3:8)

Miga leef in ’n samelewing wat baie bekend lyk. Die volksleiers – re­geerders, regters, profete en priesters – teer op die volk en verryk hul­self ten koste van gewone mense. Die leiers wat ’n voorbeeld behoort te stel, het hul rug op die Here gedraai. Hulle misbruik hul mag en aanbid die geldgod. So erg gaan dit, dit lyk of die boonste laag van die samelewing in skuim verander het. Ten spyte van alles noem hulle hulself steeds die volk van God.

Die Here God kies Miga as sy profeet en stuur hom om Israel te waarsku dat Hy hulle gaan straf. Miga leef naby God en hy is nie bang nie. Die Gees van die Here woon in hom en gee hom krag om die waarheid te praat.

Maar hoeveel stemme wat vandag teen korrupsie en menseregteskendings opgaan, word geïnspireer deur die Heilige Gees? Is ons wat belydende Chris­tene is, so gewoond om stil te bly dat ons nie meer ’n mening het nie? Ons beroem ons daarop dat ons ’n Christenland is, maar leef ons nog volgens Christennorme? Nee, maak beswaar sonder om neerhalend en beledigend te raak, en blaas daardie fluitjie. As die reg aan jou kant is, sal God jou krag gee soos hy vir Miga gegee het. ‘En hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag, wat Hy uit­geoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het’ (Ef 1:19–20). Te onmoontlik om te glo? Nee, dit is nie. God het ons so lief dat hy ons met die krag van sy Heilige Gees bewapen.

Almagtige God en Hemelvader, dankie vir u Gees wat in my woon.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Roela ·

Ek prys die Here dankie Jesus. En die vyant wat net vernietig neem asb kennis hiervan.

Theresa B ·

Amen! Dankie Heer dat U nogsteeds elke sekonde van die dag by ons is en steeds in beheer is al lyk dinge so baie donker vir ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.