Gedagte vir die dag: Die krag van die waarheid

blom-liefde-hande-ring

Foto: René Roux.

As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie. (Matteus 6:14-15)

Die eerste stap na vergifnis is om vir God te vertel wat iemand aan jou gedoen het en dat jy nie lus is om daardie persoon te vergewe nie, al weet jy dit is eintlik goed vir jou om dit te doen. Wees dan dapper. Gaan grawe die moeilike Skrifgedeeltes op. Soos: “As julle ander vergewe, sal julle vergewe word” (Luk. 6:37). En: “Gee ag op julleself. As jou broer aanhou sonde doen, wys hom tereg, en as hy tot inkeer kom, vergewe hom” (Luk. 17:3). Bid in, oor en deur daardie woorde totdat jy hulle effens kan begin voel – en vind ’n manier om hulle op die een of ander manier effens uit te leef.

Die skrywer van Hebreërs het gesê God se Woord is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as ’n swaard met twee snykante en sny tot tussen die siel en die gees. Dit vlek ons diepste motiewe en begeertes oop (Heb. 4:12). Moenie die krag van God se waarheid onderskat om ’n revolusie van die hart binne-in jou te begin nie. Hou aan om jou hartwonde met suiwer waarheid uit te spoel. Dit sal brand, maar dit sal merkwaardige genesing bring – gouer as wat jy gedink het.

Watter Skrifgedeelte oor vergifnis kan jy vandag iewers neerskryf terwyl jy die waarheidskrag daarvan toelaat om besit te neem van jou?

Dankie vir u Woord, Here. Dis moeilik om te sluk – en nog moeiliker om te verteer – maar ek weet dit is goed vir my. Gebruik dit om my te help en te genees. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.