Die krag van gebed

(Foto: Ben White/Unsplash.)

Deur ds. Adriaan Swart

“En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die Woord van God met vrymoedigheid gespreek” – Handelinge 4:31

Was jy al ooit by ʼn groot byeenkoms van mense, ʼn rugbywedstryd op Loftus, of ʼn baie groot musiekkonsert soos Afrikaans is Groot? Die samekoms van hierdie duisende mense genereer baie geraas en lawaai. Veral as hierdie mense almal saam die sportspan of die kunstenaars toejuig en vir hulle handeklap. Die krag van die lawaai wat hierdie duisende mense genereer, laat die stadion of die ouditorium behoorlik dreun. Die spelers of die kunstenaars word ook daardeur aangemoedig om nóg beter te presteer. So is dit ook by Christene wat saam bid tot God!

Die apostel Paulus het hierdie krag van gebed geken, en hy het gereeld daarop staatgemaak dat Christene saam moet bid vir verskillende sake, maar in die besonder vir die uitdra en verkondiging van die Evangelie oor die wêreld heen.

In Efesiërs 6:19 vra Paulus die kerk se lidmate om vir hom te bid sodat hy onbevrees en onverskrokke die Evangelie van Jesus Christus kan verkondig.

Paulus vra ook in Kolossense 4:2-4 dat die Christene vir hom sal bid dat hy die waarheid van God se Woord altyd suiwer sal verkondig.

Ook vra Paulus in 2 Tessalonisense 3:2 dat die kerk vir hom moet bid om hom te bewaar van die aanvalle van die bose magte en die slegte mense wat die Evangelie nie wil glo nie.

Petrus en Johannes het ook baie staatgemaak op die gesamentlike gebed van die Christene tydens hul werk en bediening. In Johannes 4 het Petrus en Johannes saam met die kerk se Christene gebid vir meer krag en vrymoedigheid om die Evangelie oral te verkondig.

Jakobus gee ook die opdrag aan die Christene in Jakobus 5 dat daar vir siekes gebid moet word vir genesing.

In Handelinge 12 is die onskuldige Petrus deur koning Herodes in hegtenis geneem, waarna die gelowiges almal saamgekom het om te bid vir sy vrylating. In reaksie op hierdie gesamentlike gebed, verhoor God hulle en word Petrus deur ʼn wonderwerk vrygelaat uit die tronk. Dit alles gebeur deur die krag van gebed.

Wat beteken gebed vir ons as moderne Christene?

Ons moet meer saam bid as kerke, en as dit moontlik is, meer saamkom by bidure of gebedsgeleenthede om saam te bid tot God.

Ons moet bid vir ons land en al sy mense, ons moet bid vir die regering (Rom. 13), ons moet bid vir kerke en kerkleiers sodat hulle wysheid mag ontvang om die Woord suiwer te bedien en sodat hulle die vermoë, die krag en die vrymoedigheid sal hê om die Evangelie suiwer aan die wêreld te verkondig, sodat alle mense die Goeie Nuus van Jesus Christus kan hoor.

Ons moet ook vir mekaar as Christene bid, dat ons met God se krag, wysheid en deursettingsvermoë gevul kan word sodat sy kerk en koninkryk gebou kan word.

Ons moet bid dat God ons sal bewaar van die Bose, soos Jesus ons geleer het in die Onse Vader-gebed (Matt 6:9-13).

Maar in moeilike tye soos hierdie, waar die koronavirus soos ʼn vloedgolf oor die wêreld spoel, is dit juis nóú die tyd om ons toevlug tot die lewende God van die hemel en aarde te neem. Jesus self het sy kinders aangemoedig om te bid (Luk. 18:1), en Paulus moedig ook die Christene aan om te bid sonder ophou (1 Thess. 5:17).

Dit is tyd dat wêreldse mense, lande en regerings sal besef dat God ons enigste hoop, redding en uitkoms in hierdie krisistyd gaan wees. Gaan vandag reeds op jou knieë, bid en vra dat God ons genadig moet wees, sy reddende hand na ons toe sal uitsteek en uitkoms aan ons sal bied.

Gebed:

Hemelse Vader, ons bid vir ons land en sy mense. Wil u genadig wees, redding gee, genesing bring en geloof in mense se harte vestig. Amen.

  • Ds. Adriaan Swart is ’n predikant by die AP-kerk Sanddrift, ’n plattelandse gemeente 25km noord van Brits in die Noordwes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stefan ·

Op die konvensie van Genève is jaaare gelede vasgemaak dat tydens oorloë die gebruik van mosterdgas en biologiese oorlogsvoering (virusse) verbode is omdat dit as uiters onmenslik ervaar word.
Nou word hierdie virus op die mensdom losgelaat!

Vriendelike Frikkie ·

Niemand spesifiek kan vir hierdie pandemie verantwoordelik gehou word nie. Daar is nie altyd ‘n sondebok wat gestraf kan / moet word nie. Daar was al baie soortgelyke of erger plae in die mens se geskiedenis en in die volgende paar honderd jaar gaan daar nog baie meer wees. Wat ons as mensdom kan doen is om vinniger te reageer om die bekende teenmaatreëls gouer toe te pas. Dan het ons ‘n kans. Nee, daar is nie ‘n groot slegte wolf wat buite die deur sit en wag nie. Dis net die verloop van die natuur.

Vriendelike Frikkie ·

Ons mensdom het opgehou om te vetrou op die Here. Ons doen die gebedsding, maar dis net sodat ons die regte blokkies kan afmerk. Daardie intense vennootskap met die Here onbreek deesdae.
Hoeveel mense sien jy wat ‘n sambreel saamneem na ‘n biddiens vir reën? Geen vertroue of Geloof nie, nie eers so groot soos ‘n mosterdsaad nie.

Maria M S ·

Die feit van die saak is dat ons te veel mense is vir hierdie aarde. Ons glo ook dat GOD in beheer is van hierdie aarde en slegs HY sal besluit wat laat Hy toe en wat nie.
Baie dankie Ds Adriaan vir n baie gepaste artikel.
Groete uit Vanrhynsdorp, Olifantsrivier Gemeente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.