Gedagte vir die dag: Die krag van gebed

bid_kniel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek kniel voor die Vader. Hy is die Vader van elke gemeenskap in die hemel en op die aarde. (Efesiërs 3:14-15)

Is jy bekommerd oor jou kinders? Miskien het party van hulle die pad gevat en gaan reis. Dalk is daar ’n paar verlore seuns in die familie wat wild lewe. Elke keer as jy met hulle wil praat, weier hulle om na jou te luister. Wat kan jy daaromtrent doen?

Hoeveel tyd bring jy op jou knieë vir jou kinders deur? Hierin lê die uitdaging: As jy nie vir hulle bid nie, hoe verwag jy sal enigiets verander? Billy Graham het gesê as hy sy lewe oor kon leef, sou hy minder preek en meer bid. Waarom? Omdat daar krag in gebed is.

Ons moet begin om meer te bid en minder te praat. Party van ons jaag eintlik ons kinders van die huis af weg omdat ons die hele tyd in hulle ore neul. Hulle moet ook soos ons deur die skool van die lewe gaan om lewenslesse te leer. Hulle moet hul koppe stamp, want dis die enigste manier waarop hulle gaan leer.

Dit lyk egter tog asof hierdie probleem die afgelope paar jaar erger geword het. Jongmense doen net wat hulle wil. Wat kan ons doen? Die Bybel sê vir ons: “Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ’n kragtige werking” (Jakobus 5:16).

Ons moet minder praat en meer bid. Wees lief vir jou kinders en hou jou deur vir hulle oop om enige tyd huis toe te kom, maar dan wel op jou voorwaardes. Jy stel jou standaarde en bid, en God sal die res doen.

John Wesley se ma het elke dag vir haar seun gebid. Ek het al baie stories gehoor oor mans en vroue wie se ma’s vir hulle gebid het. God het hierdie evangeliste opgerig om reuse in sy koninkryk te wees. Begin om meer te bid en minder te praat. Moedig aan en kritiseer minder. Begin glo wat God oor jou kind sê en nie wat ander mense sê nie. Hou aan glo en bid; God sal jou gebede beantwoord. Mag God jou ryklik seën.

O Here, U ken die wanhoop en pyn in my siel. U weet hoe lief ek my gesin het. Ek vra dat U vir my kinders sal intree. Vader, bring hulle asseblief huis toe. Gee my die moed om aan te hou glo en bid. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Von ·

Dankie Here ek het nie hulle toestemming nodig om vir hulle te bid nie. Amen

Lena Jonk ·

Ons dank ons Vader elke dag vir ons kinders en kleinkinders wat ons het, daar is nie een dag in my en my man se lewe wanneer ons nie soggens en saans vir ons kinders en kleinkinders bid nie en ons dink ons het die wonderlikste kinders en kleinkinders, almal baie gelowig en kinders van ons Almagtige Vader. Al die lof en eer aan ons Grootste Meester.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.