Gedagte vir die dag: Die krag van God in jou

Boekevat Foto - Sonsopkoms oor dam

Foto: Christo Brits

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het. (Ef 1:18-20)

In hierdie besielende gebed wat Paulus vir sy gemeente bid, vra hy dat die Here mense se geestesoë sal verhelder, wat beteken dat hulle sal leer om soos Geesvervulde mense te sien. En eers dan sal hulle ontdek dat hulle roeping as Christene met ’n heerlike hoop gevul is, die hoop op ’n ewige erfenis wat reeds op hulle wag. Moenie moed verloor nie; moenie hoop verloor nie! Kry net jou oë in orde!

En dan kom hy by hierdie verstommende woorde: julle moet ontdek hoe geweldig groot God se krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. God se krag in en deur mý lewe? Ek wat so dikwels totaal kragteloos voel? Ek wat meen ek is tot niks in staat nie? En intussen is God besig om my as ’n kragdadige instrument in sy diens te gebruik (dit wil sê as ek Hom toelaat!).

Maar wag, dis nie al nie. Die krag wat in en deur ons lewens in werking gestel word, is dieselfde kragtige werking waarmee God sy Seun uit die dood opgewek het! Dit is ’n leweskeppende krag. Nee, ek kan dit nie behoorlik verstaan nie. Dit laat my kop draai. Al wat ek kan bid, is dat dit in my lewe waar moet wees, dat ek wel ’n kragtige instrument in God se kragtige hand sal wees.

Mag die krag van God ook deur jou lewe tot openbaring kom.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charles van Niekerk ·

Wat n voorreg om vandag hierdie artiekels vir die eerste keer te kon lees.
Predikant vandag oor die behoefte van n “Familie “gepreek.
Hoe wonderlik sou dit nie wees om almal as n familie saam te kom lewe nie ?
Dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.