Gedagte vir die dag: Die kruis as die oorwinning

stiltetyd maroela

Foto: pixabay.com

Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. (Kolossense 2:15)    

Ons kyk steeds na die betekenis van die kruis. In die vroeë kerk is besondere klem gelê op die feit dat die kruis ’n oorwinning oor die Bose was. Hulle het gevoel dat sonde aan die Bose ’n houvas, ’n reg op mense gee. Sonde bring immers verwydering tussen ons en God, sonde bou ’n skuld op teenoor Hom en sonde lei tot die dood –  ook die ewige dood. Sonde eindig by die duiwel!

Aan die kruis het Christus egter namens ons vir die sonde gesterf, ons skuld afbetaal en ons verhouding met God herstel. Dit laat die Bose dus sonder sy greep op sondaars, want hulle is nou verlostes! Só het Christus miljoene uit die greep van die duiwel gered. Sy dood was die “losprys” om vir hulle vrylating te betaal, sê die Bybel. Vir ons wat gered is, beteken dit niks minder nie as lewe uit die dood. Nog iets – óns Here is die oorwinnaar en óns triomfeer elke dag saam met Hom – ook vandag!

Dankie, Here Jesus, dat U aan die kruis die mag van die Bose oor ons oorwin het, dat U ons vrygekoop het uit sy greep. Nou is ons gered vir ewig! Amen.

Bron: Hier is ek, Here deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.