Gedagte vir die dag: Die kuns van ridderlikheid

 paartjie_natuur_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het. (Efesiërs 5:25)

Wat het van al die ridders geword? As ’n mens die Engelse woord “chivalry” in die woordeboek opsoek, word dit gedefinieer as die “medieval knightly system with its religious, moral, and social code”. “Ridderlik” beteken in Afrikaans “soos ’n ridder, hoflik, edel”.

Die ideale ridder is moedig, vol eer, hoflik, regverdig en bereidwillig om swakkes te help. Dit sluit hoflike gedrag in, veral van mans teenoor vroue. Ridders moet in die bres tree vir armes, en weeskinders en weduwees beskerm.

Dis so belangrik vir die vrou van die huis om te weet dat sy en haar gesin heeltemal veilig is omdat haar man vir hulle sal sorg, wat ook al gebeur, en dat hy sy lewe onvoorwaardelik vir hulle sal neerlê.

Hy sal nie slegs hierdie kosbare nessie vol weerlose siele beskerm teen ’n wêreld wat lyk of dit mal word nie, maar hy sal ook elke dag vir hulle kos op die tafel sit. Wat ook al gebeur, hy sal seker maak dat die ma van die huis gelukkig is, dat al die dinge by die huis in ’n werkende toestand is en dat die kinders gelukkig en tevrede is.

Dit help nie die man is by sy werk ’n verstommende goeie lid van die personeel, maar tuis kom hy nie sy pligte teenoor sy vrou en kinders na nie. Die Bybel sê baie duidelik dat ’n vrou aan haar man onderdanig moet wees en dat mans hul vroue moet liefhê (Efesiërs 5:22-25). Mans moet soos ridders vir hul dames wees. As hulle hierdie rol ernstig opneem, hulself ontsê en hul vroue en kinders begunstig, sal dit vir hul vroue maklik wees om hul mans te respekteer.

Ons moet regtig baie pligsgetrou wees met die tyd wat ons saam met mekaar bestee. Die Britte sê ’n man se huis is sy kasteel. As dit die geval is, moet ons meer waaksaam wees om dit so te hou. Jou vrou is mos jou prinses, of hoe? Behandel haar dan so.

Here God, ek dank U vir die instelling van die huwelik wat U geskep het. Ek bid dat U eggenote sal oprig om manne van eer te wees, dat hulle hul vroue sal liefhê net soos U die kerk liefhet. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Connie ·

Ek is ‘n weduwee en verstomnend hoeveel mans probeer my besteel soos bv. loodgieters, nutsmanne. Hul sien jou as sagte teiken. Plaas dat hul gaan lees wat se die Bybel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.