Ek is nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin. (Joh 16:32-33)
“In die wêreld sal julle dit moeilik hê.” Dit is nie eintlik iets wat ’n mens wil hoor nie, maar dis ’n absolute onlosmaaklike deel van die evangelie. Waar daar lig is, het duisternis ’n konflik. Jesus sê nie Hy gaan al ons probleme oplos nie. Inteendeel, ons gaan ’n paar bykry!
Die vrede wat Jesus gee, kom nie uit die wegdoen van probleme nie. Dit kom te midde van probleme. Ons vrede word gebore in die feit dat Jesus die wêreld oorwin het en die Regter van die nasies is. Selfs al gooi hulle ons rond en selfs al maak hulle ons dood. Ons triomfeer steeds saam met Jesus en in Jesus. Ons gaan saam met Hom die laaste sê hê.
Here Jesus, maak asseblief my oë oop om U te sien. Laat omstandighede en moeilikhede my nie van U laat vergeet nie. Help my om geanker te bly in die vrede wat U gee.