Dit sê Ek vir julle sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin. (Joh 16:33)
Dis interessant dat die boek wat die langste bo-aan die trefferlys van The New York Times was, The Road Less Travelled van M. Scott Peck was – ’n boek wat begin met die sin: “Life is difficult.”
“Die mens is vir swaarkry gebore,” skryf Job (5:7). Voor Jesus se kruisiging waarsku Hy dan ook sy dissipels dat die lewe moeilik is. Jy kan dus tereg vanjaar jou eie stuk swaarkry verwag. Daar lê dalk hierdie jaar vir jou ’n siek bed voor; dalk gaan jy teleurgesteld wees as jou drome nie verwesenlik word nie; miskien sal jy finansiële terugslae ondervind. Maar te midde van die swaarkry kan jy daarop reken dat Jesus reeds die wêreld oorwin het en dat Hy aan jou kant is.
Boonop is swaarkry altyd ’n pluspunt – dit is juis jou swaarkry wat jou stywer aan God laat vashou, wat jou jou eie onvermoë laat ontdek.
Gelukkig weet God se kinders dat Hy by hulle is wanneer hulle swaarkry. Swaarkry is goed, want swaarkry kweek volharding, skryf Paulus aan die gemeente in Rome; volharding kweek weer egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop (Rom. 5:3-4).
Here Jesus, ek het al telkemale ontdek dat die lewe moeilik is. Dankie dat swaarkry ’n pluspunt kan wees omdat dit my digby U hou, en dat dit volharding en egtheid van geloof kweek. Amen
Lees Johannes 16:25-33
Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy
Wonderlike gedeelte, so vanpas vir my vandag, op die dag wat ek dit die nodigste het.