Gedagte vir die dag: Die lewe is vlietend

arms_uitgestrek_man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is. (1 Tessalonisense 5:18)

’n Paar jaar gelede het dit vir ’n baie lang tyd nie goed gereën in die distrik waar ek boer nie, maar toe het dit uiteindelik behoorlik begin reën. Die gemeenskap se verligting was tasbaar en die oeste op al die plase het ’n ommekeer gemaak.

Ek glo vas dat ons iets net waarlik kan waardeer as ons swaar gekry het. My kinders sal vir jou sê dat daar één ding is wat my regtig ontstel, selfs op hierdie ouderdom, en dit is watervermorsing. Die rede daarvoor is dat ek al verskeie kere erge droogtes ervaar het.

Trouens, in hierdie spesifieke omgewing het baie boere hul plase verloor weens die aanhoudende droogte wat ons in die tagtigerjare ervaar het. Dit het my ’n deeglike bewustheid gegee van die waarde van water.

Lyding en ontbering ontwikkel beslis karakter – dit is die water wat die siel voed. Die apostel Paulus het skipbreuk gely, is gestenig, geslaan, in die tronk gegooi, van kos ontneem en is uiteindelik in Rome onthoof. Nogtans kon hy in Romeine 5:3-4 sê: “Dis egter nie al nie – ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting.”

Die lewe is vlietend! As jy ’n amper-dood-ervaring gehad het, begin jy elke oomblik van die lewe geniet. Jy waardeer jou familie en vriende, jou werkgewer en werknemers, die reuk van reën op droë grond, ’n pasgebore baba en die sonsopkoms.

Iemand wat al self deur ’n moeilike tyd in sy of haar lewe is, sal medelye hê met ander. Ek wil jou aanmoedig om God, jou geliefdes en jou gemeenskap te waardeer. Ons het alles wat ons nodig het. Kom ons wees dankbaar en kyk mooi na alles wat aan ons toevertrou is.

Dierbare Vader in die hemel, U is ’n magtige en wonderlike God. Dankie vir alles wat U my gee, ook tye van swaarkry. Ek weet dat U dit ten goede gebruik. Dankie vir u blywende liefde en getrouheid. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.