Gedagte vir die dag: Die liefde moet opreg wees

liefde.jpgDie liefde moet opreg wees. (Rom 12:9)

Kinders van God word geken aan hulle liefde vir God en hulle liefde vir mekaar. Die eerste van die Riglyne vir die Christelike lewe wat Paulus in hoofstuk 12 aan die gemeente in Rome voorhou, is dan ook dat hulle liefde opreg moet wees. “Moenie dat julle liefde ’n skynvertoning wees nie,” lui die Holland se vertaling van hierdie teksvers. Almal van ons is die meeste van die tyd so besig met ons eie dinge dat ons bitter min tyd en aandag vir ander mense oor het. Dit is een van die redes waarom ons lief de nie altyd opreg is nie. Ons maak soms asof ons werklik in ander mense se probleme belangstel, terwyl ons eintlik net vir onsself en ons eie probleme omgee.

Die oorspronklike Griekse teks verwys na ’n toneelspeler met ’n masker op. Ongeveinsde liefde is dus eintlik liefde sónder ’n masker. ’n Liefde wat werklik eg en opreg is, ’n liefde wat die ander persoon eerste stel sodat my eie belange tweede kom. Uit ons self is ons nie tot so ’n liefde in staat nie, want dit is die soort liefde waarmee God ons liefhet. Want God is liefde, en dit is net Hy wat ons kan leer om só lief te hê; om ander mense te sien soos Hy hulle sien. Om verby hulle foute en gebreke te kyk en die mens daar agter lief te hê.

Vra Hom om vir jou hierdie liefde sonder ’n masker in jou hart te gee deur sy Heilige Gees wat in jou woon.

Hemelse Vader, ek bid dat U dit vir my deur die werking van u Gees moontlik sal maak om ander mense opreg lief te hê met dieselfde liefde waarmee U vir my liefhet. Amen

Lees Romeine 12:9

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.