Gedagte vir die dag: Die liefde van God deur storms     

Storm_weer_see_rotse_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. (Matteus 14:22) 

Die dissipels beleef ’n wonderwerk met vyf brode en twee vissies. Jesus gee nie vir hulle ’n keuse nie, maar ’n opdrag om in die boot te klim en oor te vaar na die ander kant.

Hulle was nie vrywillig in die storm nie, maar in Goddelike opdrag. Die see was rof en hulle het voortgebeur ten spyte van die storm. Of God is God en Hy het presies geweet wat Hy doen, of Hy is glad nie God nie en Hy maak ’n fout.

Soms laat God storms toe. Vir seker nie om jou seer te maak nie. God sê: “Ek het ’n reël dat in die chaos van jou lewe, daar ’n Goddelike voorsienigheid of uitkoms is. En uit die chaos van jou storm sal My naam verheerlik word. Wat moet jy doen? Jy moet net aanhou roei! In die een hand die spaan van geloof en in die ander hand die spaan van aanbidding.”

Jy ken Hom nie regtig, alvorens jy nie deur ’n storm gaan nie. Jy leer nie hoe getrou Hy is, alvorens jy Hom nie waaragtig moet vertrou nie. Kyk mooi en jy sal in jou omstandighede sien hoe Jesus in jou storm op pad is na jou. Dit voel vir jou asof dit jou gaan onderkry, maar God se Vaderhart deur Jesus se liefde en omgee is daar vir jou! Jy kan God nie hierin sien nie, maar Hy sien jou! Geloof is die vaste vertroue van dit waarop ons hoop en ’n bewys van dit wat ons nie kan sien nie.

God sê: “My kind in watter situasie jy jou ook al in hierdie stadium van jou lewe mag bevind, moontlik deur ander se toedoen of dalk deur jou eie toedoen … Ek is God wat ’n bonatuurlike reël oor jou lewe handhaaf wat Goddelike inspraak genoem word. Ek sál ingryp en my Naam sal daardeur verheerlik word!”          

Here, ek sal aanhou roei en uitkyk vir U! Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Von ·

Dankie Here vir genade onbeskryflik groot…..al is ek siende blind..U sien my en hou my op koers. Amen

Werner ·

Ek bevind myself in ‘n situasie deur my eie toedoen maar ek gaan aanhou hoop en bid vir verligting. Amen.

Liezl ·

Hi Werner, die feit dat jy wel op hierdie artikel ingekom het om dit te lees, sê BAIE! Hy lei jou, Hy versterk jou, Hy sal jou rigting gee en Hy sal jou beter keuses laat maak. Sterkte vir jou! AMEN

goggaman ·

Hi Julle Het deur n woeste storm gegaan n tydjie gelede. Toe ek regtig nie meer weet watter kant toe nie het ek vir God gevra om vir my n teks uit die Bybel te gee, Ek het my Bybel bu jakobus 1 oopgemaak. Toevallig? oordeel gerus self

Dries ·

Ek is ook in ‘n storm, grotendeels agv my eie toedoen, maar ek weet die Here het my innig lief en Hy sal op Sy wyse en op Sy tyd ingryp. In sulke tye moet ons die geleentheid benut om nader aan Hom te groei, dan sal ons selfs deur die storms heen vrede beleef.

Dries ·

Petrus het sy oë van Jesus afgehaal en toe sink hy. Petrus het in sy angs na Jesus toe geroep en Jesus het hom met ‘n innige deernis en liefde gered. Dieselfde geld vir ons, as die lewe vir ons te veel word, dan het ons Iemand om na te roep, JESUS. Hy “sal ons veilig aan wal bring” , midde in die storm sal Hy vrede in ons harte bring

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.