Gedagte vir die dag: Die linie van Jesus

Stofpad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee. Julle het Hom uitgelewer en Hom voor Pilatus verwerp toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word. Hy was heilig en opreg. (Handelinge 3:13-14)

Dis gewigtige woorde met groot oortuiging in die heiligste plek van die Jode deur ’n gewone visserman. Petrus trek die lyn regdeur van Abraham, Isak en Jakob, van die voorgeslag af tot by Jesus, God se “Dienaar met goddelike eer”. Kan dit duideliker? Vandat Abraham eeue tevore geroep is, loop die koers regdeur na Jesus die Christus. Petrus gee ook die verdoemende uitspraak dat die Jode Hom voor Pilatus “verwerp” het toe Pilatus Jesus wou vrylaat. Hieroor is geen twyfel nie.

Wat ’n mens laat wonder: Sou Petrus vroeg die oggend agterlangs onder die skare geskuil het toe Jesus voor Pilatus verskyn het? Sou hy tog skaam-skaam agter Jesus se patetiese kruis-“optog” aangesluip het nadat hy die haan hoor kraai het?Waarskynlik.

Hy is oortuig van sy saak, van skuld en onskuld, van reg en verkeerd. Hy is skielik ’n orator voor die volk, ’n geleerde, iemand wat mense kan beweeg om te luister. Hy was immers drie jaar lank in die “universiteit” van Jesus self, die grootste Professor van alle tye. En waar dit hom aan moed ontbreek het, het die Heilige Gees hom nou uit die krag van sy oortuiging laat optree. Hy was ’n man deurdrenk van Christus: Christus, die belofte aan die vaders Abraham, Isak en Jakob.

Want as Christus nie gekom het nie, was die geskiedenis van Abraham-hulle, Moses en Dawid vir ons aanbidding irrelevant, bloot interessante verhale van mense wat in interessante tye geleef het. Maar Jesus is God se brandpunt in die geskiedenis van sy skepping, ook die brandpunt in jou en my geskiedenis. Hy moet ons leer. Hy moet ons help. In Hom ontmoet ons ons God. Elke dag.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.