Gedagte vir die dag: Die lysie

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. (Filippense 4:6)

Ons word baiekeer gewaarsku om nie na God toe te gaan met ’n lysie wat soos ’n inkopielysie lyk nie. Tog sê God dat ons Hom alles mag vra. Hy stel geen grense en voorwaardes nie. Ons kan alles vir Hom vertel, en ons moet ook. Wat help dit tog om weg te steek wat ons eintlik wil hê? Hy sien dwarsdeur al ons slim storietjies. Wees dus eerlik en vra Hom wat jy soek; smeek as jy moet.

Doen dit met dankbaarheid en in diepe afhanklikheid, nie omdat jy dink jy kan God manipuleer nie, maar omdat Hy jou elke dag met soveel goeie gawes oorlaai dat jy nie anders kan as om te besef dat jy alles wat jy het, by Hom kry nie. Die hier en nou is tydelik, maar God klee ons nes Hy die lelies van die veld klee, mooier as Salomo in al sy prag en praal. Hy sorg dat die wil­de voëls genoeg kry om te eet; waarom dan nie ons wat baie meer werd is as hulle nie? (lees Matteus 6:25–34). Vra jouself af as jy bid: Het ek dit waar­voor ek vra regtig nodig of wil ek dit net hê omdat ek dit begeer?

Here Jesus, U het self gesê – al hierdie goed wat ons moet koop en soms ‘moet’ besit is niks werd as ons nie die lewe het nie. Ek is van­dag dankbaar dat ek leef en soveel voorregte en seëninge het wat ek verniet en vrylik kan geniet.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Verstaan nie ·

Dankie vir die pragtige dagstukkie! Dit is hoe ek bid, sommer kort-kort deur die loop van die dag n gesprek met God. Dan ook ernstige smeekgebede wanneer daar n krisis is. Ek weet en glo dat God daar is en hoor wat ek sê en vra. Maar, volgens my, sal God dit gee wat jy vra as dit sy WIL is en inpas by sy PLAN. Hoekom sê mense dan jy moet glo dat God jou gebed gaan verhoor? God sal dit mos doen, ek glo hy sal dit doen, mits dit sy wil is. As dit nie sy wil is nie, sal Hy nie jou gebed beantwoord nie. So kry ek bv kanker. Ek bid dat Hy my genees. As dit sy wil is, word ek gesond. Indien dit nie sy wil is nie, sterf ek. Dit ontstel my as mense sê jy word nie gesond nie, want jy GLO nie. Ek kan nie vir God probeer manipuleer nie! Verduidelik asb v my en sê of ek verkeerd is.

SNEL ·

Verstaan nie, ek stem 100% saam met jou, dis hoe ek ook voel en dit verstaan. Ek het ook al mense hoor praat; jy moet so, en moet nie so bid nie. Op die ou einde voel ek, wat is dit die moeite werd, want lyk my niks doen ek reg nie, nie eers om met God te praat nie en dan onttrek ek my half van alles (wat ek glo net van die vyand af kom), maar hierdie gedeelte hierbo is hoe ek nou deesdae dink en voel en ook soos “Verstaan nie” sê van gebedsverkoring. Ek voel God is my Hemelse Vader en net soos ek met my aardse pa oor alles kan gesels en dinge vra en vir hulp vra, hoeveel te meer nie vir my Hemelse Vader nie. Dan ook net soos n aardse pa, kry ek nie alles wat ek vra nie, maar tog moet ek dit aanvaar en weet my pa het net my beste belange op sy hart. En met siekte, kanker of wat ook al, of ek lewe of sterwe, ek sal “fine” wees, my skatte moet mos in die hemel wees en ek ken die Man aan altwee kante van die meer….in lewe en in sterwe, All for Jesus.

neelsie ·

Dankie vir sinvolle besprekings.
God se wil is om n verhouding met Hom te he.
Die Heilige Gees is met ons , deur Hom word Jesus verheerlik , wat as advokaat vir ons by God optree.
God sien ons as sondeloos deur die bloed van Sy seun Jesus Christus.
Geloof is n gawe van die Heilige Gees.
Bid daarvoor.

Jan Jooste ·

Die Bron van alle krag en genade. Dankie vir die pragtige stuk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.