Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word. (Hab 2:14)
Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” (Jes 6:3)
Die magtige teenwoordigheid van die Here – daar is in dié woorde baie meer opgesluit as wat ’n mens met die eerste oogopslag daarin sien. Ja, die Here is almagtig, en waar Hy teenwoordig is, sal ’n mens dus van sy magtige teenwoordigheid kan praat. Maar dit sê nog gans te min. Wanneer ons die konteks nagaan waarin die woorde voorkom, ontvou daar ’n ander, indrukwekkende prentjie voor ons oop.
In Numeri word die magtige teenwoordigheid van die Here telkens verbind met die wolkkolom en die vuurkolom wat die volk deur die woestyn begelei het. In die profeteboeke is die magtige teenwoordigheid van die Here daar waar die gerubs God se lof en heerlikheid besing. God se magtige teenwoordigheid word dus telkens deur die een of ander buitengewone illustrasiemateriaal verbeeld.
Wanneer Habakuk dan sê dat die magtige teenwoordigheid van die Here op die hele aarde geken sal word, is dit een van die mees aangrypende beloftes in die Bybel! Dit beteken dat God se wondermag oor die hele wêreld tot openbaring sal kom. Is dit waar? Het dit al gebeur? Ja, vir seker! En dit sal nog steeds meer en meer gebeur. Dit het gebeur toe die Seun van God uit die dood opgewek is om as oorwinnaar oor dood en hel te triomfeer. Dit gebeur telkens waar die krag van God deur sy kerk tot openbaring kom, waar God se liefde en genade die wêreld oorspoel soos die waters die seebodem bedek.
Die magtige God is ook in jou lewe teenwoordig.
ons hou baie van julle dag oordenking, sluit elke aand af met die lesing en dit gee ons rus. Here seen die lesing in Jesus Naam