Gedagte vir die dag: Die markplein

Kleipotte_2_-stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe Jesus klaar gepraat het, het een van die Fariseërs Hom na sy huis genooi vir ’n ete. Hy het dus ingegaan en sy plek aan tafel ingeneem. (Lukas 11:37)

Deesdae is daar meer geleenthede as ooit tevore vir ons as gelowiges om ons geloof en hoop met ander te deel.

God het vir ons gesê om die evangelie oor die wêreld heen te gaan verkondig. Tog word ons dikwels deur die kerk gekritiseer as ons uitgaan en dit doen. Dieselfde het met Jesus gebeur. Hy het oral heen gegaan waar daar ’n behoefte was, want Hy het gesê: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie – siek mense wel” (Lukas 5:31).

Ons moet egter onthou dat die Here sê ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Ons moet in gebiede ingaan waar mense Jesus nie ken nie, maar ons moenie ons standaarde of beginsels verander nie.

Peter Marshall vertel dat hy genooi was om by ’n sjampanje-ontbyt in Washington, DC, te gaan praat. Sy gehoor het uit baie welgestelde mense bestaan. In plaas van sjampanje het Marshall vir vrugtesap gevra. Die man langs hom het opgelet dat hy nie die goeie, ingevoerde sjampanje drink nie.

Die man was nuuskierig en wou weet waarom hy vir ’n niealkoholiese drankie gevra het. Marshall het geantwoord dat hy die predikant was van een van die kerke in die stad en dat daar elke week talle ryk mense na hom toe kom vir berading. Hy het gesê dat die tragedies in die mense se lewens nege uit tien keer met drankmisbruik gepaardgaan. Daarom het Marshall gevoel dat hy hulle nie kon raad gee as hy self drank gebruik nie. Die ryk man het Marshall ’n week later gaan besoek en sy lewe aan Christus toegewy.

Dis nie altyd ons woorde wat die wêreld beïndruk nie, maar eerder hoe ons optree wanneer ons op “die markplein” is. Kom ons hou aan om die evangelie ten alle koste te verkondig en kom ons gebruik woorde net as dit regtig nodig is.

Jesus, U het altyd gegaan na waar die nood die grootste was, ten spyte van wat mense van U gedink het. Elke dag is ’n geleentheid om vir U te getuig, selfs al gebruik ek nie woorde nie. Druk dit op my hart dat elke daad U weerspieël, o Here. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Erica ·

Amen dit is waarna ek elke dag Strewe, om ‘n verskil in ander se Lewe te maak. HELP MY Heer. Ly my na waar U My nodig het. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.