Die mekaar-opdragte

(Foto: Dim Hou/Unsplash)

Deur Johan Oosthuizen

Die Bybel wemel amper van “Julle moet mekaar…”.

Christene is in hul daaglikse omgang op mekaar aangewese. Dis asof die Woord dit vir ons op die hart wil druk om nie net in die spieël te kyk nie, maar om verby die spieël te kyk en mekáár raak te sien.

Dis egter nie genoeg as dit by raaksien ophou nie. Dis as’t ware ʼn raaksien deur die oë van Jesus wat die “vir mekaar”- en “aan mekaar”-opdragte deur verskeie skrywers in die Woord uiteengesit het. Ons moet daarop let dat dit weer eens nie vriendelike versoeke nie, maar direkte opdragte is. Al is dit nie altyd maklike opdragte nie!

Wilma Botha (heuning.co.za) stel dit so mooi: “Ons kan nie op ons eie vervuld wees nie. Ons kan nie ’n lewensdoel op ons eie hê nie. Daar is dele op ons rug wat ons nie self gekrap kry nie. Dis seker om ons daaraan te herinner dat ons mekaar nodig het. Ja, dit vra iets van ons. ʼn Bietjie toegeeflikheid, verdraagsaamheid, opoffering en dikwels vergifnis”

Groet mekaar

Kom ons begin by Rom. 16:16. “Soen mekaar met ʼn soen van broederskap.” (Sjoe!) Terloops, daar bestaan ʼn kerkgenootskap wat dit letterlik toepas by samekomste! Die 1933-vertaling praat van “ʼn heilige kus” waarmee gelowiges mekaar moet groet. Maar, allermins is die bedoeling dáái Tannie se soen as die familie bymekaar kuier…

Die Good News Bible sê: “Greet one another with a kiss of peace.” ʼn Ander vertaling praat van ʼn “warm greeting”. Of dit nou ʼn warm handdruk, ʼn drukkie of ʼn wangkus is, moet dit ’n getuienis van aangetrokkenheid tot en aanvaarding van mekaar wees. 1 Kor. 16:20 sê: “Groet mekaar opreg en hartlik soos Christene behoort te doen.”

Ons het mekaar nodig en is op mekaar aangewese

“Julle is die liggaam van Christus en afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan.” (1 Kor. 12:27). As een ly, ly al die lede saam en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.” (1 Kor. 12:26).

Dit kom eenvoudig daarop neer dat ons mekaar moet raaksien sodat ons mekaar kan help. Die Engelse uitdrukking stel dit mooi: “A friend in need is a friend indeed.”

Bid vir mekaar

“Bid vir mekaar.” (Jak. 5:16). Die Here sal nie die opdrag gee as Hy nie van plan is om dit in ag te neem nie. Hy sê ook dat ons sonder ophou moet bid, dus ook vir mekaar. Ons kan volgens ʼn gebedslys bid. Ons moet op die uitkyk wees vir die nood van ander. Gaan bid daar waar iemand met verslaentheid neergevel is. Om vir mekaar te bid, is nie ʼn binnekamer-aksie nie. Nee, dáár in die winkel, waar die eienaar vir jou sê hy sal sy deure moet sluit.

Aanvaar mekaar

“Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” (Rom. 15:7). Ons aanvaar nie omdat alles volgens ons wense is nie, maar ten spyte van verskille en opvattings. Dit gaan nie net oor mense nie. Dit gaan primêr oor die eer van die Here, en alles wat daaruit voortvloei wat goed is, is ʼn bonus. Ons sing die liedjie: “Ons aanvaar jou met die liefde van ons Heer. Daar is vrede waar Sy liefde ons regeer”.

Praat mekaar moed in

Paulus herinner die gelowiges aan die wonder van verlossing en genade en dan sê hy in die lig van bogenoemde in 1 Tess. 5:11: “Praat mekaar moed in en versterk mekaar.” Staan op God se beloftes. Praat oor sy getrouheid. Deur mekaar moed in te praat, beweeg ons uit die skadukant van vertwyfeling en onmag na die sonkant van God se kragtige werkinge.

Verdra mekaar

Hier kan ook bygevoeg word om geduldig met mekaar te wees. Dis ʼn taai een, maar ons kan nie daarby verbykom nie. “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig en verdra mekaar in liefde.” (Ef. 4:2). Die Woord leer vir ons iewers dat ʼn sagte antwoord die grimmigheid afkeer. Ons kan net verdra en geduldig wees as ons die ander persoon deur die oë van Jesus sien.

Dien mekaar in liefde

“… dien mekaar in liefde.” (Gal. 5:13b). Om die opdrag beter te verstaan, kan ʼn mens van “bedien” praat. Dis soos ʼn kelner wat bedien. Op sy skinkbord bedien hy aan die gas dit wat hy graag wil geniet. As ons mekaar dan dien, bied ons vir mekaar iets aan. Dit kan wysheid of wyse raad wees. Meer nog, kan dit tyd of geld of goed wees. Ja, dit kan ook ʼn stukkie van jou hart wees. Gee en dien lê baie naby aan mekaar. Daarmee toon ons Jesus-liefde.

Leef in vrede met mekaar

“Betoon in liefde die hoogste agting aan mekaar … Leef in vrede met mekaar.” (1 Tess. 5:13). Vrede bring harmonie, begrip, aanvaarding en respek tussen ons. Vrede maak dit moontlik om met mekaar oor die weg te kom.

“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het … gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”   (Matt. 5:23-24). Vrede met mekaar is vir God belangrik.

Wees gasvry teenoor mekaar

“Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te kla”. (1 Pet. 4:9). Die Boodskap sê, “As iemand by jou opdaag en jou hulp nodig het, help hom met ʼn glimlag sonder om onderling te kla of te brom.”

Dalk moet ons die grense vir gasvryheid so ʼn bietjie verskuif of uitrek. Nie net hier naby ons nie. Ons gasvryheid kan dalk vir ʼn vreemdeling die las ligter maak. Jou omgee en gasvryheid in enige vreemde, ongewone situasie, kan iemand anders die lig laat sien.

Dra mekaar se laaste

“Dra mekaar se laaste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.” (Gal. 6:2). Die Boodskap stel dit so: “Sien raak wanneer ander gelowiges (onder andere) swaarkry en help hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag.” Sak saam met die ander onder die sware juk in en trek saam. “

Só kan God sy hand déúr julle na ander uitsteek en ander kan sy hand deur júlle voel.” (1 Pet. 2:5, Die Boodskap).

Sing onder mekaar

“Sing onder mekaar Psalms, lofgesange en ander geestelike liedere. Sing met julle hele hart tot eer van die Here.” (Ef. 5:19). Dit wys op eenheid van gelowiges en skuif die fokus op ons na fokus op God. Ons verklaar uit een mond wie die Here vir ons is. Om ons dank te sing, lig ons uit donker tye. Dink maar aan Paulus en Silas wat lofliedere in die tronk gesing het. Ja, “Laat alles wat asem het, die Here prys!” (Ps. 150:6).

Vergewe mekaar

Doen dit! Die wrewel en wroeging gaan nie langer aan jou kleef nie. Jy sal nooit al die ander kan nakom as daar nie vergifnis is nie. Vergewe, spreek vry en kry dit agter die rug.

“Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” (Kol. 3:4). Dis ʼn opdrag. Dit is ʼn duur prys om te betaal, maar dit bring bevryding. Vredemaak is ʼn wilsbesluit. Sê dit hardop vir die Here en vir jouself, want deur sy krag is ons tot alles in staat. Die Here eer bereidwilligheid en gehoorsaamheid.

Hê mekaar hartlik lief!

“Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.” (1 Pet. 4:8). Die liefde is die sambreel oor al die ander Julle-moet-mekaar. Hierdie sambreel van liefde behoort mekaar se tekortkominge te bedek en doemprofete, kritiese tonge en foutsoekers weg te hou van ons geliefdes en medegelowiges.

“Die liefde bedek alles, glo alles en verdra alles.” (1 Kor. 13:7). Sonder liefde is alles wat ons doen en bereik soos ʼn klinkende metaal of luidende simbaal. Net ʼn geraas in God se ore. Sonder liefde val al die ander mekaar-opdragte soos ʼn kaartehuis inmekaar. Net God is die bron van liefde en Hy wil dit gee – gratis, verniet.

Daadwerklike aandag en gehoorsaamheid en uitvoering van die opdragte in die Woord se “… aan mekaar…”, is die goue hoofweg na ware geluk en vervuldheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.