Die nommer een manier om die dag van môre te verander

Foto: © Geopende Deure Internasionaal

Ons besef nie aldag dat die kragtigste wapen in hierdie wêreld tot ons beskikking is nie. ʼn Wapen wat die dag van môre kan verander … kragtiger as enige missiel of diktatorskap. Die wapen wat nie gekeer kan word deur landsgrense, tronkhekke of weermagte nie. Wat selfs die mure van parlemente, die Withuis, en ook harte, kan deurboor.

Die wapen: gebed.

Ons bid gereeld vir ons families en vriende, ons vra vir genesing en uitkoms. Maar indien dit al is hoe ons hierdie wapen gebruik, mis ons uit ons uit op ʼn GROOT avontuur.

“Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen.” (1 Tim 2:1-2)

God nooi ons uit om ook ons gemeenskappe, ons nasie en selfs die wêreld te beïnvloed om letterlik geskiedenis te verander, terwyl ons op ons knieë is.

Gebed werk en die getuienis van ons vervolgde broers en susters in Christus reg oor die wêreld getuig hiervan! Miljoene Christene woon in lande waar Christenskap nie welkom is nie, en daagliks hul vryheid, sekuriteit en veiligheid prysgee ter wille van hul toewyding aan Jesus Christus. Sommige Christene word in die tronk gegooi, aangerand, afgedank, en selfs doodgemaak, vanweë hulle Christengeloof.

Foto: © Geopende Deure Internasionaal

Tog, ten spyte van hierdie konstante druk en nood waarin meeste vervolgde Christene hulself in bevind, bly hul grootste behoefte dat ons – ek en jy – vir hulle bid. Want hulle, wat in die mees vyandigste omstandighede leef, verstaan dat gebed nie slegs leë woorde is nie, maar krag dra wat uitkoms kan bring.

Een so getuie is Deborah, ʼn Nigeriese weduwee. Deborah het vir ʼn tyd lank geworstel met depressie, nadat sy haar man en twee dogters op dieselfde dag verloor het. Haar man is vermoor en haar dogters ontvoer. Asof dit nie genoeg was nie, is haar seun letterlik maande later ook vermoor … vir alleenlik een rede: omdat hulle Jesus-volgelinge is. Maar sy getuig, “Dit is die gebede van die gelowiges van reg oor die wêreld wat die rede is waarom ek leef.”

Verder verenig gebed ons nie net as één Liggaam onder die heerskappy van die Een wat oor alle mag en outoriteit beskik nie, maar dit getuig ook van die liefde en omgee wat ons vir mekaar het.

“Julle, die mense wat vir my bid, voel soos my nuwe familie,” sê ʼn ander gelowige, 15-jarige Abdu* van die Midde-Ooste wat afgesny is van sy bloed-familie nadat hy gekies het om Islam te versaak en Jesus te volg. “Die gebede van my wêreldwye familie inspireer my om meer te bid en om sterk te staan in die Here.”

Ons kan dus, op ons knieë, saam skryf aan die geskiedenis en saam veg teen die donkerte in hierdie wêreld – deur te bid vir ons gemeenskappe, ons land en die nasies.

Foto: © Geopende Deure Internasionaal

En Gebed: Die Werklike Stryd  wys ons hoe! Hierdie kragtige boekie verduidelik en leer die ware effektiwiteit van gebed, wat bevestig dat gebed die werklike stryd in hierdie wêreld is. Klik hier om hierdie gratis e-boek af te laai.

Geopende Deure dien vandag miljoene vervolgde Christene in meer as 50 lande in samewerking met plaaslike kerke en vennote, deur middel van gebedsondersteuning, die voorsiening van Bybels, Christelike materiaal, dissipelskap, lewensbestaansopleiding – en op verskeie ander maniere.

*Verteenwoordigende name en foto’s gebruik vir sekuriteitsdoeleindes.

Volg Geopende Deure op sosiale media:
Facebook
Twitter
YouTube
Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.