Gedagte vir die dag: Die noodsaak en krag van gebed

man-kniel-gebed.jpg

Foto: imgarcade.com

Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. Bid ook vir my. (Ef 6:18-19)

God se wapenrusting is net doeltreffend as jy gebed daarmee saam gebruik. Die geveg teen die bose kan nooit sonder gebed gewen word nie. Paulus ken die krag van gebed uit sy eie ervaring en kan dus eerstehands daaroor praat. Hy vra dat die mense van Efese alle dinge biddend sal doen en God by elke geleentheid sal smeek deur die Heilige Gees. Die Bybel gee ons dan ook die ver sekering dat die Heilige Gees ons nie net sal léér om op die regte manier te bid nie, maar dat Hy reeds by God vir ons intree en by God pleit dat Hy ons gebede sal verhoor.

Paulus vra die Efesiërs ook om vir mekaar te bid. Voorbidding vir medegelowiges is onontbeerlik. Laastens versoek hy die gemeente om hom ook aan God op te dra.

Vra God elke dag om jou in jou stryd teen die bose te help. Wees getrou in jou voorbidding vir ander gelowiges. Die heel beste ding wat jy vir mense kan doen, is om vir hulle te bid. Dra ook die sendelinge en predikante op ’n gereelde basis aan God op sodat die evangelie van God se liefde aan alle mense bekendgemaak sal word. Daar lê ongelooflike krag in die gebede van Christene op gesluit. Wanneer mense bid, antwoord God.

Here, ek loof U dat U ’n hoorder van gebed is. Help my om van nou af alles biddend te doen en ook om voorbidding vir ander gelowiges te doen. Amen

Lees Efesiërs 6:18-20

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.