Gedagte vir die dag: Die pitsweer

woud_pad_stilte_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Moet ek met offers na Hom toe gaan, met jaaroud kalwers? Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde, hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding? (Miga 6:6-7)

Die antwoord op die retoriese vraag hierbo is natuurlik “Nee”. Maar die menslike ingesteldheid om te wil “betaal” vir ons oortredings spruit uit ’n minder edele motief. Ons poog eintlik om God se aandag te probeer aftrek van die vrot kol in ons hart deur Hom te probeer beïndruk met ons groot “offergawe” – dikwels “goeie (dooie) werke”.

In Miga 6:11-12 spel God die sondige gedrag uit en laat hulle verstaan dat hul vals vredeoffer Hom nie beïndruk nie, aan gesien hulle nie hul harte wil ondersoek en verander nie.

Ons openbaar soms dieselfde gedrag. Lukas 17:3 sê: “As jou broer verkeerd teenoor jou optree, berispe hom, en as hy berou kry, vergewe hom.” Wanneer iemand ons so berispe, probeer ons ons verdedig, of ’n vinnige “Jammer” sê, wat ons dan hoop die probleem uit die weg sal ruim. Pleks van om aktief te luister en die persoon se pyn te verstaan, nederig ons skuld te erken en dan reg te maak wat ons verkeerd gedoen het. Ware berou en regstelling sal die verhouding behou en selfs versterk. Om ’n kortpad te probeer kies deur met mooi woordjies en gunsies jou oortreding te probeer toesmeer, gaan die verhouding net skade aandoen en die persoon teenoor wie jy gesondig het, net met ’n dieper frustrasie los.

Wanneer ’n pitsweer ’n liggaam (verhouding) besoedel, moenie rus tot elke laaste bietjie etter uit die wond uit is voor jy hom toemaak nie, anders sal dit die liggaam net weer van voor af besmet.

Here, help my om nie kortpaaie te kies in my verhoudings nie. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria ·

Dit waar….as mens nie opreg berou nie soos teks vanmore en probeer OPHOU. Bou jy elke “sonde” n baksteen van muur tussen jou en Liefde Vader. Jesaja 59:1

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.