Gedagte vir die dag: Die prys

 hand_veld_son_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Matteus 10:34-42

“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het”. (Matteus 10:40)

Die eise van dissipelskap is hoog. Dit vind Jesus se voornemende navolgers baie gou uit. Dit behels kruisdra, die dikwelse prysgee van wat vir jou lief en dierbaar is. Dit vereis meestal ’n totale herskikking van jou voorkeure.

Vir baie is dié prys te hoog – en wie kan hulle daarvoor kwalik neem? Ons kleef tog almal aan dit wat ons as “sekuriteit” beskou, of ten minste aan wat aan ons bekend is, en beslis aan wat gelief is. Al weet ons dat dit ons eintlik diskwalifiseer om dissipels te wees.

Jesusbewonderaars? Ja. Navolgers? Nie noodwendig nie.

Is die belofte van ’n beloning dan nie aanloklik genoeg nie? Die wete dat jy as Jesusnavolger in hierdie lewe regstreeks in God se diens is. Dat jy die Naam dra van die Een wat jou agter Hom laat aanloop en jou ook genoeg vertrou dat Hy jou uitstuur.

Nee, dit verleen jou nie oral en in alle situasies bykomende status nie; dit bied jou wel in alle omstandighede die troos en beskerming van Hom wie se Naam jy dra en in wie se Naam jy by jou bestemming opdaag.

Hoe naby is dit nie aan die sin van die lewe nie! Dié dat jy ’n groter Idee navolg en verkondig. Dat jy lewenslank ’n navolger én ’n gestuurde is? Is dit nie opwindend om doelbewus te leef in ’n omgewing wat veel groter as jou klein hoekie is nie?

As dit net nie was vir die prys wat jy daarvoor moes betaal nie …

Here, help my om elke dag reg te kies. Daar is maar een pad en een bestemming. Die alternatiewe is te erg om te oorweeg.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Ps 139 se U Here is ken my ten diepte..U weet ook hoe swak ek werklik is….dankie Here dat elke nuwe dag weer n geleentheid is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.