Gedagte vir die dag: Die regte pad na die ewige lewe

 pad_woud_bos_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

’n Groot skare uit die geledere van die Jode het kennis geneem dat Jesus daar is. Hulle het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus self nie, maar ook om vir Lasarus, vir wie Jesus uit die dood opgewek het, te sien. Die priesterhoofde het begin beraadslaag en besluit om ook vir Lasarus dood te maak omdat baie van die Jode as gevolg van Lasarus na Jesus toe oorge loop en in Hom geglo het. (Johannes 12:9-11)

Lasarus was fisies en geestelik dood, en God het hom deur Jesus Christus opgewek. Die mense het dus nie net gekom om Jesus te sien nie, maar ook om Lasarus te sien, wat gesterf het en weer uit die dood opgewek is. Toe hulle sien dat hy springlewendig en gesond was, het hulle geglo. Hulle het geglo dat Jesus Christus die Seun van God was. Waarom? As gevolg van die preke wat Jesus gelewer het? Nee, as gevolg van die wonderwerk wat Hy gedoen het.

Die hartseer deel is dat, alhoewel al hoe meer mense gelowig geword het, die priesterhoofde Lasarus wou doodmaak. Hulle was jaloers omdat die mense Jesus gevolg het en nie meer na hulle geluister het nie.

Die mense het geglo dat Jesus Christus die Seun van God was omdat Hy iemand uit die dood opgewek het. Verstommend genoeg het die kerk beplan om die man wat opgewek is, dood te maak sodat daar geen bewyse sou wees dat Jesus die Seun van God was nie.

Daar is soveel mense daarbuite wat goeie lewens probeer lei, maar dis nie waaroor Christenskap gaan nie – dit gaan oor geloof in Jesus Christus. Die priesterhoofde het geweier om die waarheid te sien wat hulle in die gesig gestaar het; hulle het alles prysgegee omdat hulle gedink het Jesus neem mense van die kerk af weg. Goeie dade van individue of selfs van die kerk sal nie mense in die hemel kry nie. Dis slegs as ons erken dat Jesus Christus ons Here en Verlosser is dat Hy ons sondes vergewe en vir ons die ewige lewe gee.

Almagtige Here, vergewe my asseblief dat ek aan U getwyfel het. Dankie dat U u wonderwerkende Seun aarde toe gestuur het om vir ons die regte pad na die ewige lewe te wys. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wickus de Bruin ·

Die enigste wyse hoe mens in die ewige hemel kan in gaan is deur wedergeboorte. Daardeur kom vergifnis en dan sal jy kan erken en bely dat Jesus die Seun van ons Lewende Vader is.

SNEL ·

Ja, wedergeboorte, om vergifnis te vra vir jou sonde, jou hart en lewe vir die Here te gee en jou rug te draai op die sonde en vir die Here te lewe en jou te laat doop. Doop kom na bekering. Geen baba is in die Bybel gedoop nie, maar daar staan; bekeer julle en laat julle doop. My kinders is self gedoop, ek ook, maar ek is ook groot gedoop. Mens lees mos n ding en niks sink in nie tot eendag, dan tref die goed mens en wonder mens nou waar in die Bybel is n baba gedoop en jy Google en kyk hoekom is dit nou so dat babas gedoop word en dan besef jy…. Laat ek eerder doen soos my Bybel sê.

RUDOLPH BOTHA ·

Nagmaal en Doop is 2 sakramente vanaf God gegee. As jy eenmaal gedoop is groot of klein, behoort jy aan God. Al wat jy as mens moet doen is ja, as jy nie in God geglo het nie jouself te bekeer, nie voor groot skares nie maar in jouself. En dan te bely dat hy ons Enigste God is. Om jou weer te doop, is nie nodig. Doop is van God nie van jouself. Bekering is wel van jouself. Bekering moet nie met Doop verwar word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.