Gedagte vir die dag: Die regte tydsbeplanning

tyd

Foto: Wonderfulengineering.com

Lees: 1 Korintiërs 14:26-33

God is tog nie ’n God van wanorde nie, maar van orde en vrede. (1 Korintiërs 14:33)

Goed georganiseerde mense kom nooit uitasem en gespanne by hul afsprake aan nie. As jy egter jou tyd swak beplan en in die proses laat kom, is spanning jou voorland. Om ontspanne en kalm deur jou dag te gaan is dit dus nodig dat jy jou tyd reg sal bestuur.

Soos ’n mens ouer word, neem alles langer. Eers kon ek in tien minute stort, my hare was en aantrek. Op die oomblik neem dit my nou ten minste ’n halfuur.

Stel vas hoe lank dit jou neem om gereed te maak vir ’n afspraak, en beplan dan die tyd tot jou beskikking noukeurig. Begin vroeër, en hou langer stiltetyd. Vir my is dit ’n onfeilbare resep om jou dag in plek te laat val. Moenie uitstel om jou knoop wat af is aan te werk of jou uitgetrekte soom in te sit nie. Moenie dinge in jou huis laat rondlê nie, skep saans orde voor jy gaan slaap. Gebruik ’n dagbeplanner sodat jy presies weet waar, wanneer en hoe laat jou afsprake is, en moet tog nie jou toespraak weggooi net voor jy ’n vergadering moet gaan toespreek om dat jou huis so deurmekaar is dat jy dit nie kon kry nie. (Soos die uwe een kwade dag oorgekom het!) Skryf aan die begin van die dag alles neer wat jy daardie dag moet doen, en doen dan die belangrikste dinge eerste. Op hierdie manier gaan jy nooit onkant gevang word nie, en sal jy dit kan regkry om ontspanne én betyds by jou belangrike afspraak uit te kom.

Here, help my asseblief om my tyd op so ’n manier te beplan dat ek alle nodige take betyds sal klaarkry. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.