Gedagte vir die dag: Die rykdom van die wêreld

 Vuurtoring_rots_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Met wysheid word ’n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou. Kennis is nodig om sy kamers te meubileer met allerhande kosbare en waardevolle artikels. (Spreuke 24:3-4)

Ons kan die mooiste huis bou met die beste stene en die duurste teëls. Ons kan die tuin sprokiesmooi uitlê. Ons kan die kamers met duur meubels, klere en speelgoed vul. En tog kom ’n huis sonder God se wysheid die waardevolste skat kort.

Steun op God se Woord vir kennis en begrip in julle huishouding. Leer hoe om julle kinders groot te maak en julle huweliksbeloftes te eer. Laat die Woord julle leer hoe om te werk en te rus, gasvry te wees en om te gee vir julle naaste. Onderwerp julle aan sy wil vir julle geld en besittings. Soek by Hom krag om die vyande en beproewings wat oor jou pad kom te hanteer.

God se waarheid sal julle huis standvastig maak: “Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ’n verstandige persoon wie se huis op rots gebou is. Al val daar ’n stortbui, en al kom die vloedwater af, en al woed daar stormwinde teen die huis, sal dit nie inmekaarstort nie, want sy fondament is stewig op die rots vas.” (Matteus 7:24-25) Bid dat God vandag julle huis sal bou. Loof Hom vir die geskenk van sy Woord wat julle gesin vandag lei.

Here, maak ons huis ’n huis vol genade, waarheid en liefde. Gee dat ons u Woord sal liefhê en vir U sal lewe. Amen.

Bron:
Mnr & Mev – 366 oordenkings vir egpare deur Rob & Joanna Teigen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.