Gedagte vir die dag: Die Samaritaanse vrou

vrou_sonsondergang_dink_see_staar.jpg

Foto: stringsofsoulfulness.com

Lees: Johannes 4:7- 18, 25-26

Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie ’n man nie.” En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ’n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” (Johannes 4:17-18)

Wanneer Jesus vir die Samaritaanse vrou by die put water vra, skend Hy omtrent al die Joodse gebruike van sy tyd. Die Jode het die Samaritane as ver benede hulle beskou. Die vrou moes groot geskrik het toe ’n Joodse man skielik met haar begin praat en boonop haar hele onsmaaklike verlede vir haar uitlê, maar dit keer haar nie om verder met Hom in gesprek te tree nie. Toe Hy haar vertel dat Hy die langverwagte Messias is en vir haar van sy lewende water aanbied, los sy haar waterkruik net daar by die put en gaan vertel die mense van haar dorpie van Jesus. Die Samaritane wat hierop na Jesus kom luister, glo almal in Hom – nie langer op grond van wat die vrou hulle vertel het nie, maar omdat hulle Hom as die Verlosser erken.

Indien jou eie verlede nie onbesproke is nie, kan jy soms ongemaklik en gespanne voel in die geselskap van ander mense. Jesus laat egter nie ’n mens se verlede teen jou tel nie – Hy is altyd bereid om te help en te vergewe. Hy sal ook jou sondes van die verlede vergewe as jy Hom vra en vir jou die water van die lewe aanbied – verniet. Deel jou geloof in Hom met die mense om jou sodat almal wat jou ken ook met Hom kan kennis maak.

Here Jesus, ek loof U dat U u lewende water ook vir my aanbied en my sondes van die verlede vergewe het. Maak my u boodskapper wat ander van U sal vertel. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.