Gedagte vir die dag: Die seën van gee

baba_hand_pappa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Handelinge 11:27-29

Die gelowiges van Antiogië het toe besluit dat elkeen van hulle na sy vermoë sou bydra tot ‘n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges in Judea gestuur sou word. (Handelinge 11:29)

Met ’n onlangse uitreik-aksie het ons skool kos bymekaar gemaak en vir ’n plaaslike ouetehuis geneem. Sommige van die leerders het saamgegaan om dit te gaan uitdeel. Vir hulle was dit ’n ongelooflike ondervinding om eerstens armoede te beleef en tweedens die vreugde van gee te ervaar.

In Handelinge 11 lees ons van die Christene in Antiogië. Paulus en Barnabas was vir ’n jaar hier werksaam. Deur die leiding van die Heilige Gees voorspel die profeet Agabus dat daar ’n hongersnood gaan kom. Die Christene in Antiogië besluit om geld bymekaar te maak vir hulle mede-Christene in Judea om hulle deur die moeilike tyd te help.

Dit is vir my wonderlik dat Christene van die vroegste tye af na mekaar omgesien het. Ons moet dieselfde doen. Ons harte moet oop wees om te help. Oop harte word gelei deur die Heilige Gees. As ons ons kinders leer om swaarkry raak te sien, sal hulle leer dat hulle moet help waar daar nood is. Dit kom nie vanself nie.

Ons moet soos die Christene in Antiogië ons harte oopmaak en gee na ons vermoë. Elke bietjie help om ander se swaar kry te verlig. Hoe sal die armes weet ander gee om as ons as Christene nie die voortou neem nie. Ons moet gehoorsaam wees as die Heilige Gees dit op ons hart druk dat ons moet gee. Gehoorsaamheid maak dat jy onvoorwaardelik gee sonder om te vra. Portia, ’n karakter in Shakespeare se The Merchant of Venice, sê as jy iemand seën wat swaar kry, is daar ’n dubbele seën wat plaasvind: Die persoon wat geseën word, beleef die genade en die persoon wat gee, ervaar die vreugde.

Here, U is die Gewer van alle goeie gawes. Maak my hart oop vir die Heilige Gees sodat ek gehoorsaam sal gee. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.