Gedagte vir die dag: Die sendeling se doel

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Vissersboot in Paternoster. (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media)

Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word.” (Lukas 18:31)

In ons natuurlike lewe verander ons ambisie soos wat ons ontwikkel, maar in die Christelike lewe word die doel reg aan die begin vir ons gegee en die begin en die einde is presies dieselfde, naamlik die Here Jesus self. Ons begin met Christus en ons eindig met Hom: … Dan sal ons … soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus (Ef. 4:13), nie slegs om ons eie idee te bereik van wat ons dink die Christelike lewe behoort te wees nie. Die sendeling se doel is om God se wil te doen en nie om bruikbaar te wees of verlorenes te wen nie. ’n Sendeling ís bruikbaar en hy wén die wat verlore gaan, maar dit is nie sy doel nie. Sy doel is om die wil van die Here te doen.

In die lewe van Christus was Jerusalem die plek waar Hy die vervulling van sy Vader se wil vir Hom aan die kruis sou bereik, en tensy ons saam met Jesus daarheen gaan, sal ons geen vriendskap of gemeenskap met Hom kan geniet nie. Niks kon ooit daarin slaag om ons Here van sy pad na Jerusalem te laat afwyk nie. Hy het nie vinnig gehaas deur die dorpe waar Hy vervolg is nie en ook nie langer vertoef in die dorpe waar Hy geseën is nie. Nie dankbaarheid of ondankbaarheid kon ons Here in die geringste beïnvloed om af te wyk van sy doel om na Jerusalem te gaan nie.

“’n Leerling is nie hoër as sy leermeester en ’n slaaf nie hoër as sy eienaar nie” (Matt. 10:24). Met ander woorde: dieselfde dinge wat met ons Heer gebeur het, sal ook met ons gebeur op pad na óns Jerusalem. Die werk van God sal deur ons tot openbaring kom, mense sal geseën word en een of twee sal hulle dankbaarheid toon, terwyl die res algehele ondankbaarheid sal openbaar, maar niks moet ons laat afwyk van die doel om na ons Jerusalem toe te gaan nie.

… (H)ulle (het) Hom daar … gekruisig (Luk. 23:33). Dit is wat gebeur het toe ons Here Jerusalem bereik het, en daardie gebeurtenis is die poort na ons verlossing. Die heiliges se lewe eindig egter nie in ’n kruisiging nie, maar danksy ons Heer se genade, eindig dit in heerlikheid. Intussen moet ons wagwoord wees: “Ek sal ook na Jerusalem toe gaan.”

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here U het vir my die weg geaan……hou asb my voet op die pad na Jerusalem….Amen

Ilana1213 ·

Here, baie dankie dat U vir ons verlossing aan die kruis gesterf het en help ons daagliks om dankbaar te wees vir die opoffering wat U vir U kinders gemaak het sodat ons saam met U in die Hemel kan leef. Here help ons om ook daagliks saam met U die pad deur Golgota te stap sodat ons kan sien wat U vir ons gedoen het. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.