Gedagte vir die dag: Die silwer randjie

wolke_sonsondergang_hemel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin. (Johannes 16:33)

Hang daar vandag ’n donker wolk oor jou lewe? Ek wil jou aanmoedig om eerder na die silwer randjie om daardie donker wolk te kyk. As boere weet ons hoe donkerder die wolk is, hoe meer is die reën wat dit bring. En wanneer daardie wolk eindelik meegee, bring dit wonderlike, lewegewende reën op ons plase sodat ons kos kan plant vir die mense. Agter daardie wolk skyn die son. Vir ons wat glo, is daardie son die Seun van God.

Ek het eenkeer gehoor van ’n seilboot wat aan die kus van Suid-Amerika was toe ’n groot kalmte oor die  skip kom. Enigiemand wat iets weet van seil, sal weet dit is baie gevaarlik. Geen wind beteken die boot kan nie beweeg nie. Daardie skip was vir weke vasgevang op dieselfde plek. Uiteindelik het van die matrose van dors begin doodgaan. Hulle het nie vars drinkwater gehad nie en hulle was absoluut desperaat.

Een oggend was die kaptein vroeg op. Hy het deur sy teleskoop gekyk en nog ’n skip gesien, maar dit was baie ver weg. Hulle het boodskappe na daardie skip probeer stuur, en uiteindelik ’n boodskap teruggekry dat hulle hulle emmers moet laat afsak en water skep. Jy sien, daardie seilboot was gestrand in die mond van ’n groot rivier. Die rivier was so breed dat hulle nêrens land kon sien nie, maar hulle was heeltyd direk bo ’n onuitputbare bron van vars water.

Moenie op die donker wolk fokus nie. Fokus op die silwer randjie. Jesus sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here dat U deur elke storm in my lewe daar was…Amen