Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie. (Rom 1:20)
Lees Romeine 1:18-23
Niemand kan God of sy heerlikheid sien nie, maar daar is wel ’n manier waarop ons sonder twyfel kan aflei dat Hy oor ewigdurende krag beskik, dat Hy waarlik God en Heer is, en dit is deur na die skepping te kyk. Dit is onmoontlik om na die wonder van ’n geboorte, die flonkering van die eerste sterre, ’n fyn spinnerak vol doudiamante of ’n veelkleurige sonsondergang te kyk sónder om van God se heerlikheid bewus te word. In Openbaring 5:13 hoor Johannes die engele uitroep: “Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: ‘Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.’”
Alle dinge in die skepping verheerlik God, dit is net die mens wat nie van nature deel het aan hierdie spontane verheerliking nie. Alhoewel óns van God weet, eer en dank ons Hom nie na behore nie, bly ons in die duister as gevolg van ons gebrek aan insig. Wanneer jy weer aan God se heerlikheid twyfel, kan jy maar net na die natuur rondom jou kyk en jou in die wonder daarvan verlustig.
Here God, saam met die skepping wil ek U kom loof en erken dat al die lof en die eer, die heerlikheid en die eer U tot in ewigheid toekom. Amen