Die smaad ter wille van die Christus het Moses ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het. (Hebreërs 11:26)
Ons het reeds tevore gesels oor Moses wat Egipte verruil het vir “die smaad ter wille van die Christus” (Heb 11:26). Die smaad van Christus is niks anders as die wil van God nie. Die wil van God dra ’n smaad wat jou gebrandmerk laat in die wêreld. Jesus se lewenspassie was om die wil van die Vader te doen, en daardie passie het Hom die smaad van die gemeenskap op die hals gehaal.
Die wil van God hou egter nie net smaad in nie. Dit is die skatkis tot die lewe en beloftes van God. Jesus het die heerlikheid en eer van hierdie wêreld verbeur om die wil van die Vader te doen en daardeur die eerste geword wat die nuwe lewe in God uit die dood ontvang het (1 Kor 15:20). Jesus se hoogste eer as mens, naamlik dat Hy die wil van God volledig uit gevoer het, het ook sy grootste smaad in die oë van die wêreld geword. Dís hoe verskillend hierdie twee gemeenskappe is. Die Hebreërsskrywer moedig die gelowiges aan om by Jesus buitekant die laer te gaan staan. “Buitekant die laer” (Heb 13:13-14) beteken jy en die laer sê jy hoort nie daar nie. Jy het geen aandeel of erfenis in die laer nie. Dis die smaad van Christus.
Om by Jesus buitekant die laer te gaan staan is ’n baie dramatiese stelling! Dit beteken ons vereenselwig ons met die Verworpene en erken dat sy lot ook ons lot is. Ons wat by hier die Man daar buite staan, sal nie vriendelik deur die laer behandel word nie. Om dit te doen beteken jy simpatiseer met die Man en dít is ’n doodsvonnis.