Gedagte vir die dag: Die Son van geregtigheid

Stiltetyd_sonsondergang.jpg

Foto: Christo Brits

Aan die een kant van die hemel kom hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy gloed nie. (Psalm 19:7)

Die son – lig en lewe. Niks ontkom aan sy gloed nie. Die son verteenwoordig lewe én dood, seën én oordeel. Vir die krag van die son moet jy gereed wees, maar ook daarop bedag wees. En so is dit ook met God. Hy gee nie net oorvloed van seën vir wie op Hom vertrou nie, maar oordeel ook elkeen wat sy Naam ontheilig.

God se Son het op ’n heel besondere manier opgekom in die Persoon van sy Seun Jesus. Hy word profeties al as die Son van geregtigheid aangedui. In sy lig sal reg en geregtigheid heers. Maar voordat dit kon gebeur, moes dit eers op die helder middag donker word. Die son het as’t ware ondergegaan die dag toe die Seun van die Mens gekruisig is. Dalk het Satan dit reggekry om die Lig van die wêreld uit te doof? Dalk het die son finaal ondergegaan?

Nee! Daar het ’n nuwe dag aangebreek toe die son op Opstandingsondag opgekom het. Die son kan nie doodgedruk of uitgedoof word nie. En net so kan die Son van geregtigheid nie uitgedoof word nie. Hy is nou en vir altyd die Lig vir die wêreld. Net in sy lig en warmte is daar lewe en voorspoed. Is dit nie wonderlik dat Hy vir ons kom vertel het dat ook ons in die wêreld ons lig moet laat skyn nie! Ligte in die wêreld. God se sonkrag in die wêreld wat deur sonde verdonker is, want ons dra die boodskap van God se songenade.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mien ·

Vir my het daar ook nou skielik ‘n lig opgegaan terwyl ek hierdie boodskap lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.