Gedagte vir die dag: Die son

Sonsopkoms-strand-Nathan-Steyn.-lig

Foto: Nathan Steyn

Vir die son is daar in die hemel ’n tent opgeslaan. As hy stralend begin om sy baan te volg, is hy soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. (Psalm 19:5-6)

Die son praat met ’n mens. Die son gee iets van homself weg, elke dag. Daar is twee goed wat die son gee waarsonder ons nie kan lewe nie, naamlik lig en warmte. Lewe en krag. Maar ons ken ook woorde soos versengende hitte en verblindende lig. In elke heidense godsdiens is daar ’n songod. Son en god is twee onafskeidbare terme. Ook die Bybel praat oor God en die son in dieselfde asem. Maar dan praat die Bybel nie van ’n aparte songod nie, maar oor die één en enige God wat ook die Skepper van die son is.

Het jy geweet: Ons melkweg (galaksie) is een van duisende miljoene galaksies? Ons son is een van ongeveer 200 000 miljoen sterre in ons eie galaksie. Wat die son betref: Elke sekonde word 400 miljoen ton waterstof in helium omskep. Elke uur word die son 1 440 000 ton ligter! Moenie bekommerd wees nie – die son het teen dié tempo nog sowat 5 000 miljoen jaar leeftyd oor voordat ons (!) bekommerd hoef te raak.

In die psalmdigter se tyd het mense gedink die son kom op en gaan onder. Ons weet van beter. Ons het ’n paar verbysterende feite oor die groot heelal geleer waarvan die digter nog nie geweet het nie. Wat hy wel geweet het, het so baie mense met soveel meer feitekennis ongelukkig vergeet, naamlik dat die son God se maaksel is.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

At ·

Mens voel maar nietig en klein teen die son, en steeds is God lief vir ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.