Gedagte vir die dag: Die standaard is Jesus

woestyn_voetspore_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dié wat beweer dat hulle in ’n noue verbintenis met Hom leef, moet self ook leef soos Hy geleef het. (1 Johannes 2:6)             

Jesus is God se standaard van reg en verkeerd. As ons wil weet wat vir God aanvaarbaar is, moet ons na Jesus kyk. Hy is die volledige en perfekte openbaring van die wil van God. Hy is ook die volledige en perfekte openbaring van die karakter van God.

Johannes sê as iemand beweer dat Hy in Jesus is, móét die karakter van God in hom wees anders lieg hy. Jy kan nie ín Jesus wees en dan is Hy nie in jou nie. Dit beteken nie jy is nou perfek en volwasse en doen alles reg nie. Dit beteken dat selfs al is die vlees teenwoordig, is die lewe van Jesus sigbaar. Stadig maar seker dring die lewe van Jesus die duisternis van jou vlees binne en verteer dit. ’n Mens kan dit sien, selfs al tree so ’n persoon in die vlees op. Die lewe van Jesus slaan selfs dan deur in die manier hoe iemand reageer wanneer hy besef sy optrede of woorde was nie in Jesus nie. Jy sien dit in die gesindheid van erkenning en nederigheid en bekering. Jy sien dit in leerbaarheid, opregtheid en eerlikheid. Dit is eienskappe so teenstrydig met die vlees en so eie aan die karakter van Christus. Om te sê jy is in Christus en hierdie eienskappe nie te toon nie, beteken iets is fout. Dan moet ’n mens óf jou lewenswyse óf jou getuienis verander!

Vader, leer my wat ware geestelikheid beteken – leer my die weë van u Seun.

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.