Gedagte vir die dag: Die trefkrag van lofprysing

amilie_sonsopkoms_hou-hande_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. (Handeling 16:31)

Toe Paulus en Silas daar in die tronk begin sing het, só lees ons in Handelinge 16:25, het die ander gevangenes na hulle geluister. Aanvanklik het die tronkbewaarder egter nie gehoor nie; hy was vas aan die slaap.

Tog lees ons dat sy lewe totaal en al verander het, en dié van sy huisgesin ook. Hulle het tot bekering gekom nadat hulle hierdie woorde van Paulus ter harte geneem het: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand 16:31).

Dié man en sy gesin het die evangelie gehoor, hulle is gedoop en “hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het” (Hand 16:34).

Nee, die tronkbewaarder het nie gehoor hoe Paulus en Silas lofliedere tot God sing nie. Hy het ook nie gehoor hoe hulle bid nie. Hy het eers wakker geskrik toe die tronk se deure wawyd oop staan. Hy wou homself om die lewe bring omdat hy gedink het al die gevangenes het ontsnap.

Hieruit verneem ons dat Paulus en Silas se lofsange ’n invloed uitgeoefen het wat veel verder strek as die gevangenes wat dit kon hoor. Die dankliedere het daartoe aanleiding gegee dat ’n hele gesin deur God gered is en dat hulle daarna in blydskap kon leef. Sulke liedere is musiek in die ore van diegene op wie dit nie eens gerig is nie …

Ek wonder hoe groot ons invloed op ander mense sal wees wanneer ons in die donker, moeilike tye besluit om eerder God te loof en te aanbid as om te bly kla? Om God te loof wanneer dit swaar gaan, is nie ’n natuurlike reaksie nie. En om te bid wanneer jy bekommerd is, kom nie vanself nie.

Maar die tronkbewaarder se storie oor die invloed wat lof en aanbidding het, moedig ons aan om ten gunste van lof en dank te kies. Dit sal ons help om uit ’n donker plek te kom, én dit sal ander help om die blydskap van ’n lewe saam met God te kan ervaar.

Daarom kan ons met groot oortuiging kies om te loof eerder as om ons te bekommer. Om eerder te bid as om te vrees en eerder te glo as om ons te kwel.

Om God te prys eerder as om te stres, is ’n lewensveranderende keuse – en dan nie slegs my eie lewe nie …

Here, dankie vir die gawe van lofprysing en gebed. Ek weet dat dit ’n groot verandering in ons lewe teweeg bring.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge. Amen!

Kornel ·

Dankie Here, dankie vir U beloftea en genade. Alle eer aan U. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.