Gedagte vir die dag: Die tyd het aangebreek

see_oseaan_sonsondergang_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!” (Markus 1:15)

So klink Jesus se intreepreek, kort en kragtig. Met ʼn paar woorde word God se plan met die mensdom uitgelê.

Die tyd het aangebreek. Watter tyd? Dis die tyd wat God lank tevore reeds beplan het, die tyd waaroor die profete van die Ou Testament met soveel geesdrif geprofeteer het, die tyd van verlossing. In God se groot plan vir die mensdom is daar ʼn datum bepaal waar daar ʼn kentering in die geskiedenis sou plaasvind. Ná daardie dag sou dinge net nie weer dieselfde wees nie. Dis die dag van Immanuel, God wat by ons kom intrek het.

Die koninkryk van God het naby gekom. Vir die Israeliete het dit oor die koninkryk van Israel gegaan. Vir hulle was die koninkryk van God net ʼn ander manier van praat oor die koninkryk van Israel. Maar dit was anders. Die koninkryk van God sou in en deur Jesus ʼn wêreldwye betekenis verkry, nie etnies of geografies nie, maar geestelik van aard.

Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus! Bekeer julle en glo die evangelie. Dít is hoe ʼn mens toegang kry tot die koninkryk van God, deur bekering en deur die goeie nuus van verlossing te glo.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.