Gedagte vir die dag:  Die Vader se kinders

Bybel_kruis_2_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Matteus 5:43-48

“… julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel”. (Matteus 5:44-45)

En wat doen die Vader se kinders? Hulle maak soos Hy maak: Hulle vergewe. Hy, die Seun, het self die daad by dié woord gevoeg toe Hy sterwend aan die kruis gehang en net daar sy Vader gevra het om sy moordenaars te vergewe (vgl. Luk 23:34). Ook een van sy eerste volgelinge, die jong diaken Stefanus, sou Hom hierin navolg (vgl. Hand 7:60).

Ek wonder of vergifnis vir al die Vader se kinders so moeilik kom soos vir my. Kyk, dit is klaar harde werk om jou familie te vergewe, en vriendskap word peperduur as vergifnis deel van die pakket is. Maar om jou vervolgers te vergewe, hulle wat hulle daarop toelê om jou lewe so miserabel moontlik te maak?

Nee, Here! Dit is darem baie gevra …

Ja, kindskap sal jou kos. Gelukkig dan nie aan daardie dinge waaraan jy werklik waarde heg nie – geld, gesondheid, gewildheid. Nee, hierdie drie g-woorde kom ongeskonde daarvan af. Dit is die e-woorde wat in die slag sal bly as jy sommer hot en haar begin vergewe – ego, byvoorbeeld. En “ek”. En “eie eer”.

Erge sooibrand is boonop jou voorland, want jy sal heelwat trots moet sluk. Én selfregverdiging oor hoekom dit nie nóú kan nie en waarom jy eers daaroor sal nadink. Asook allerlei slim verduidelikings wanneer vriende jou oor jou vergifnisvoornemens uitvra en jy darem nie té pateties wil voorkom nie.

Nee, om die Vader se kind te wees, is nie ’n saak vir sissies nie. Dit vra die moed wat net Hy kan gee. Hy wat alles van jou weet, ook hoe erg jou vyande jou mishandel.

U het mý dan vergewe, Here! Ek wat so dikwels ontken dat ek aan U behoort …

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Here U weet dat ek op my eie tot niks instaat is nie maar U Gees leer en lei my…..dankie Heer vir U geduld met my…Amen

Lorette ·

Ek vind dit geensins moeilik om mense te vergewe nie, ek dra nie “grudges” nie, maar soms as ek sien hoe mense optree, dan moet ek hard met myself praat om hul te vergewe! My Hemelse Vader vergewe my dan onvoorwaardelik vir dit wat ek verkeerd doen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.