Gedagte vir die dag: Die verborgenheid van die Here

ATTACHMENT DETAILS vrou_prys-God_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: Barbara Jackson/Pixabay )

Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. (Psalm 25:14, Bybel in Afrikaans 1983/1992)        

Die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak. (Psalm 25:14, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

God verseker elke Christen wat na Hom draai vir raad en hulp, wat sy wysheid soek bo die opinies van die wêreld en die aanbevelings van mense, dat Hy hulle sal lei en onderrig in sy weë. Dit is die geheim van elkeen wat God vrees, wat Hom eerbiedig en aanbid – hulle sal kan getuig van ’n hegte vriendskap met die Skepper self.

Hierdie volmaakte eenheid en vreugdevolle saamwees, hierdie verborgenheid, kan slegs plaasvind as ons ons onderwerp aan God se gesag en sy gebooie onderhou omdat ons dit sien vir wat dit is: ’n liefdesbrief aan ’n sterwende wêreld. As Christene vier ons nie net ons vrye toegang tot God die Vader nie, maar is ons ook dankbaar vir die wyse raad van godvresende manne en vroue wat vir ons bid en ons aanspoor tot ’n inniger verhouding met die drie-enige God.

Soos ons groei in die volheid en krag van die Heilige Gees, sal ons groei in ons vrees vir God wat ons harte heilig maak, ons verstand verlig en ons baie bekommernisse uitdryf. Eers dan sal ons kan verstaan hoe hierdie verborgenheid met God in ons alledaagse lewens uitspeel.

Here, die idee dat U ’n gewone mens, iemand soos ek, in U vertroue neem, slaan nog steeds my asem weg. Help my om altyd so naby aan U te leef dat al my besluite deurtrek sal wees van u wil. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.