Gedagte vir die dag: Die verreikende water van die lewe

wildernis_rivier_stroom_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Johannes 7:38)

Riviere bereik plekke waarvan hulle oorsprong nooit weet nie. En Jesus het gesê as ons sy volheid ontvang, sal strome lewende water uit ons vloei en tot ’n seën wees selfs tot aan “ … die uithoeke van die wêreld” (Hand. 1:8), ongeag hoe onbeduidend die invloed van ons lewe mag lyk. Ons het niks te doen met die uitvloei nie … “(w)at God van [ons] verlang, is dat [ons] moet glo … ” (Joh. 6:29). God laat selde toe dat ’n persoon sien watter groot seën hy werklik vir ander is.

’n Rivier is oorwinnend in sy volharding deurdat dit alle hindernisse oorkom. Vir ’n tydperk volg dit rustig sy koers, maar kom dan by ’n struikelblok. Dan word dit wel vir ’n tydjie geblokkeer, maar maak gou ’n nuwe paadjie rondom die struikelblok. Of ’n rivier kan vir kilometers buite sig wees om dan net weer breër en groter as ooit sigbaar te word. Sien jy hoe dat God ander se lewe gebruik, terwyl daar ’n struikelblok in jou lewe gekom het wat dit laat lyk of jou lewe vir God van geen nut is nie? Hou dan net aan om jou aandag op die bron te vestig en God sal sorg dat jy om die struikelblok gaan of anders sal Hy dit verwyder. Moet nooit jou oë op die struikelblok of probleem vestig nie. Die struikelblok sal onbelangrik wees vir die rivier wat standvastig deur jou vloei, mits jy onthou om op die bron gefokus te bly. Moet nooit toelaat dat enigiets tussen jou en Jesus kom nie – geen emosie en geen ervaring nie – niks mag jou weghou van die een groot soewereine bron nie.

Dink net aan die genesende en verreikende riviere wat besig is om in ons siel te vorm en te groei. God het wonderlike waarhede aan ons verstand geopenbaar en elke waarheid wat Hy oopbreek, is ’n verdere bewys van die krag van die rivier wat Hy deur ons sal laat vloei. As jy in Jesus glo, sal jy vind dat God magtige, bruisende riviere van seën vir ander in jou binneste ontwikkel en laat groei.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Here open my Geestes oe en ore…Amen

FM

Geen struikelblok kan in die Heilige Gees se pad staande bly. GOD IS ALMAGTIG.