Die verskil in skoonheid van 50 vroue van 50 verskillende lande

Hierdie Vrouemaand kyk ons na die verskil in voorkoms en skoonheid van vroue reg oor die wêreld en hoe God so baie vroue geskape het, verskillend, uniek en steeds na Sy beeld.

Reg oor die wêreld speel vroue belangrike en positiewe rolle in hul samelewings. Die hartseer is egter dat in baie lande vroue steeds erge diskriminasie, vervolging en ander gruweldade ervaar as gevolg van hul geslag en geloof. In lande waar vroue nie deel van die meerderheidsgeloof vorm nie, is hulle veral kwesbaar en ervaar hul dubbele vervolging – eerstens weens hulle geslag en tweedens oor hulle geloof.

Hieronder volg ʼn paar foto’s van vroue vanuit verskillende lande reg oor die wêreld, wat die uniekheid van vroulike skoonheid openbaar. Die lande waarvan die foto’s geneem is, is ook die lande op Geopende Deure se 2019 Wêreldwaarnemingslys, ʼn lys van die top-50-lande waar Christene die ergste vervolging vir hulle geloof ervaar.

  1. Noord-Korea

In Noord-Korea is militêre diens verpligtend vir beide mans en vroue. Geloofsvryheid is ongekend in hierdie land waar almal die opperleier, Kim Jung Un, soos ʼn god moet aanbid. Meer en meer vroue ontsnap vanuit hierdie moeilik omstandighede en vlug na China, waar baie vroue tot geloof in Christus kom en dan kies om terug te keer na Noord-Korea om in die geheim die Evangelie daar te gaan verkondig.

  1. Afganistan

Die koers waarteen vroue in Afganistan leer om te lees en skryf is ongeveer die helfte van wat dit in die res van die wêreld is. Vroue hiér het min tot geen sosiale status nie en speel ʼn baie klein rol in die samelewing. Dit maak dit makliker vir hulle om hul Christelike geloof ʼn geheim te hou en om die Evangelie met hulle families te deel.

  1. Somalië

Somaliese vroue vorm ʼn groot deel van die samelewing en word gewoonlik gesien in die Guntiina, ʼn lang stuk lap wat oor hul skouers vasgemaak en om hul middel gedraai word. Christenvroue in Somalië ervaar erge vervolging indien hulle geloof ontdek word wat insluit: huislike geweld, verbale mishandeling, die weiering van kos of selfs die dood.

  1. Libië

Vroue in Libië het ʼn lang geskiedenis van aktiewe deelname in die ekonomiese, sosiale en politiese ontwikkeling van die land. Saam met hierdie deelname word daar ook van hulle verwag om die hoë waardes van die samelewing te behou, soos om nie na ander gelowe te bekeer en so skande oor die familie te bring nie.

  1. Pakistan

In beginsel is Pakistan se wette nie teen vroue nie (vroue kan selfs tot eerste minister van die land verkies word), maar die kulturele en geloofsoortuigings is die rede vir onreg wat teen vroue gepleeg word. Christenmeisies in Pakistan word byvoorbeeld dikwels ontvoer, verkrag, in huwelike gedwing en geforseer om na Islam te bekeer.

  1. Soedan

Soedanese vroue is pioniers in die veld van wetenskap, politiek en aktivisme. Soedan was die eerste land in Afrika en die Midde-Ooste met ʼn vroulike parlementslid (in 1965). Tog word alle vroue in Soedan gedwing om hulself soos Moslems te beklee, ongeag van hul geloof. Vroue wat ‘onbetaamlik’ (nie soos Moslems nie) aantrek, loop die gevaar om betas en verneder te word tydens ondervragings.

  1. Eritrea

In 1990 was meer as 40% van Eritrea se vryheidvegters vroulik. Die EPLF (Eritrean People’s Liberation Front) het ’n hoër persentasie vroue gehad as enige ander vryheidsweermag ter wêreld. Eritrese vroue word verplig om militêre opleiding te ondergaan.

  1. Jemen

Jemeense vroue is tradisioneel lief vir juwele, dit is ʼn vrou se trousseau en skatte. Elke bruid ontvang juwele van haar bruidegom as ʼn geskenk en as waarborg vir ʼn toekoms van sekerheid. Maar om ʼn Christenman as bruidegom te kies kan lei tot gevangeneskap, huisarres en selfs doodstraf.

  1. Iran

Daar is bitter min beskerming teen mishandeling en huishoudelike geweld in Iran. ʼn Christenvrou vanuit ʼn Moslem-agtergrond kan nie met ʼn Christen-man trou nie, omrede die staat haar steeds as ʼn Moslem beskou, en volgens wet mag Moslems nie met nie-Moslems trou nie.

  1. Indië

Indië is ʼn demokratiese nasie met ʼn verskeidenheid gelowe wat se Grondwet in teorie wettige gelykheid bied aan alle landsburgers, ongeag hulle geloof, geslag of ras, en verbied geloofsgebaseerde diskriminasie. Die realiteit is egter vêr hiervan af. Vir vroue in Indië vanuit die laer kaste (Dalit) bly die lewe steeds moeilik en word dikwels hulle uitgebuit. Baie van dié vroue draai na Christenskap wat hulle dan dubbele teikens maak, eerstens omdat hulle van die Dalit-kaste is en tweedens omdat hulle Christene is.

Klik hier om die volle lys van 50 foto’s te sien wat die skoonheid en uniekheid uitbeeld van vroue van reg oor die wêreld…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.